Warren Gatland weet presies wat om in Sondag se Wêreldbeker-halfeindstryd in Jokohama van die Springbokke te verwag.

“Ons is baie vertroud met die manier waarop hulle speel,” sê Gatland, Wallis se Nieu-Seelandse afrigter.

“Daar was ’n paar jaar gelede waar hulle probeer het om die All Blacks of Australië na te boots en ’n bietjie te avontuurlustig was in die wyse waarop hulle gespeel het.” Hy sê die Bokke het nou na hul sterkpunte teruggekeer.

“Dis beslis hul fisiekheid voorlangs, dryfmaalbewegings, sterk skrums, die wyse waarop hulle die bal dra en teenstanders wyd klop. Hul skopplan is goed,” sê hy.

“Ons sal daardie bedreigings moet hanteer, veral ook hul vleuels (Cheslin Kolbe en Makazole Mapimpi) wat probleme kan veroorsaak.”

Wallis is gereed vir die Bokke se fisiekheid voorlangs. Foto: Getty Images

Gatland glo nietemin dis sy span se beste kans in jare om die Wêreldbeker te wen.

“Ons het ’n skoon gesondheidsrekening wat die groep en spelers om van te kies betref. Jy kry hierdie geleenthede potensieel een keer in ’n leeftyd en jy moet dit met albei hande aangryp en die beste daarvan maak,” sê hy.

“Dit is belangrik dat ons hierdie week goed voorberei en die geleentheid vir hulself laat sorg. Dit gaan daaroor om geen spyt te hê nie – dit is die boodskap van hierdie week.”

Matt Proudfoot, voorspelerafrigter van die Bokke, het op sy beurt in die Suid-Afrikaners se nuuskonferensie gesê sy spelers het vertroue in hul wedstrydplan.

Dís volgens hom ’n belangrike rede vir hul sukses vanjaar wat die Rugbykampioenskap-titel en deelname aan Sondag se halfeindstryd insluit.

“Die feit is Rassie (Erasmus) het met ’n baie spesifieke plan aan boord gekom en dis om tot die Suid-Afrikaanse sterkpunte te speel,” sê Proudfoot.

“Wanneer jy belyning in die span kry, die plan en die rolle verstaan, kan jy baie kragtig wees.”

Hy sê die veranderde ingesteldheid in die groep is die groot verandering onder Rassie.

“Hy het almal bemagtig om eienaarskap van hul eie rolle te neem en om volgens die Suid-Afrikaanse manier te speel. Dit is die manier waarmee ons gemaklik is.”

Elke span het volgens Proudfoot sy eie wyse.

Wallis se verdedigingstrukture en hul agterste driekhoek is van hul sterkpunte wat Proudfoot in die nuuskonferensie uitgesonder het.

“Ons speel op ’n spesifieke manier en die spelers het vertroue daarin. Hulle verstaan hul rolle en wat van hulle verwag word. Hulle floreer in die uitvoering daarvan.”

Wallis sal volgens Proudfoot veral voorlangs ’n groter bedreiging inhou as wat die geval teen Japan in die kwarteindstryd was.

Die Springbokke kondig hul 23-tal Donderdag aan.