Duisende Kapenaars het Maandag die strate ingevaar om die Springbokke te verwelkom met die laaste been van hul oorwinningstoer ná die Wêreldbeker.

Die parade en omliggende strate in die middestad is die oggend deurtrek met ondersteuners in groen en goud wat die landsvlag, Springbokvlag en selfs die Stormers se vlag gewaai het.

Teen die middag het die Bokke in hul busse ook vir Langa, Belhar, Ravensmead en Elsiesrivier besoek voor hulle na die middestad teruggekeer het.

Ondersteuners waai Maandag die landsvlag in Kaapstad se middestad met die laaste

Ondersteuners in dié dele het die strate volgestaan en vir ure gewag vir die span om hul verskyning te maak, terwyl die kinders lang afstande langs die Bokke se busse aangehardloop het.

In die oggend het die span die parlement en LP’s ontmoet het, waarna hulle na die stadsaal gegaan het om vir Dan Plato, burgemeester, en emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu te ontmoet.

Thandi Modise, speaker van die Nasionale Vergadering, het die Bokke gelukgewens en gesê die hele land is trots op wat hulle vermag het.

“Julle het ons weer laat fokus op wat ons groot as ’n nasie maak. Elke naam in die span is op die tonge van ons nasie. Hou aan om die vlag hoog te laat wapper. Hou aan om die land te verenig. Julle laat ons van politiek vergeet.”

Teen die tyd wat die span by die stadsaal uitgestap het, het ’n groot skare reeds op die parade saamgedrom in afwagting en nou en dan gejuig as een van die Bokke in hul geel hemde deur ’n venster gesien word.

Siya Kolisi, Bokkaptein, waai vir die skare buite die Kaapstadse stadsaal en staan langs ’n beeld van oudpres. Nelson Mandela.Foto: Jaco Marais

Siya Kolisi, Bokkaptein, het die mense bedank vir hul “ongelooflike ondersteuning” en sy span vir hul harde werk.

Hy het daarop gewys dat mense van verskillende rasse byeen. “Dit is nou tyd vir Suid-Afrika om op te hou baklei en saam te staan.”

Cheslin Kolbe, Springbokvleuel, het in die stadsaal gesê dit is wonderlik om met die beker terug in Suid-Afrika te wees. “Dit is so lekker om al die gelukkige gesigte en selfs die trane van ondersteuners te sien,” sê hy.

Herschel Jantjies, skrumskakel, sê die hoogtepunt vir hom was die vorige dag in Port-Elizabeth toe ondersteuners langs die bus gehardloop en geglimlag het.

Kolbe het saamgestem dat die ondersteuners se reaksie die hoogtepunt van die toer is.

“Daar was ’n seuntjie wat so dors was, maar hy het net aangehou hardloop.”

Tutu het ná hy die span ontmoet het gesê wat “dié groep jongelinge” behaal het wys op die moontlikheid van wat kan wees en gaan nie net oor rugby nie.

Maak nie saak waar ons vandaan kom nie, as ons die sterre wil bereik dan kan ons dit doen.”

Die Springbokke ry Maandagoggend op ’n bus deur Kaapstad se middestad.Foto: Jaco Marais

Plato, burgemeester van Kaapstad, het die Bokke bedank dat hul oorwinning “die land verenig het”.

Hy het later in ’n verklaring gesê die span se parade deur die stad was ’n “skouspelagtige vertoning van trots en eenheid”.

Plato het ook die busdiens City Sightseeing bedank dat hulle ’n bus aan die span voorsien het ná een van hul busse kort ná die parade in die middestad onderweg na Langa onklaar geraak het.

Groepe ondersteuners het langs die N2 en R300 en op brûe gestaan met vlae en gejuig toe die Bokke se busse verbyry.

Inwoners in Belhar het ook die strate volgestaan en gesê dat hulle minstens twee uur al wag vir span.

Intussen het Hayden Arendse (6) van Genadendal en sy pa, Tyrone Arendse, Maandag die geleentheid gehad om Hayden se held Kolbe te ontmoet, berig Maygene de Wee.

Netwerk24 het vroeer berig dat Hayden ontroosbaar gehuil het toe hy gehoor het dat Kolbe sy enkel in een van die Wereldbekerwedstryde beseer het.

Hy het ook al vir sy ouers gevra of hy sy middelnaam na die van Kolbe kan verander. Toe hy sien watter enkel van Kolbe beseer was, het hy ook vir ‘n week lank ‘n beseerde enkel gehad en moes sy ma dit self verbind ook.

• SA Rugby het Maandag aangedui dat hy “kleiner besoeke” aan ander provinsies beplan, maar nog nie ’n tydraamwerk het nie.

Ondersteuners juig met die Bokke se aankoms in Langa, Kaapstad.Foto: Jaco Marais