Suid-Afrika is weer die nr.1-span in die wêreld nadat hy Saterdag vir Engeland in die Wêreldbeker-eindstryd gewen het.

Dis die eerste keer in meer as ’n dekade dat die Springbokke die boonste plek op Wêreldrugby se ranglys haal.

Al het Engeland in die eindstryd gespeel het hy teruggesak tot die derde plek om plek te maak vir Nieu-Seeland.

Die Bokke was voor die eindstryd derde op die lys.

Nadat die Rose die All Blacks in die halfeindronde oorweldig het, was die span nr.1 ter wêreld, ’n posisie wat hy skaars ’n week kon behou.

Suid-Afrika het nou 94.19 punte volgens Wêreldrugby se ranglysstelsel, gevolg deur die All Blacks op 92.11 en die Engelse 88.82.

Suid-Afrika het nou 94.19 punte volgens Wêreldrugby se ranglysstelsel, gevolg deur die All Blacks op 92.11 en die Engelse 88.82.

Die wenner van die WB-eindstryd was verseker van die boonste plek.

Die All Blacks was slegs ’n enkele week buite die top twee sedert die ranglysstelsel in 2003 in werking getree het.

Dit was in 2003, toe die span in die halfeindstryd van die WB-toernooi met 22-10 deur die Wallabies in Sydney verslaan is.

Engeland se week heel boaan was sy eerste sedert 2004, terwyl Suid-Afrika laas in 2009 die wêreld se voorste span was.

Die Bokke het ná hul WB-kroon in 2007 ook die nr.1-plek beklee en was vir die daaropvolgende twee jaar in ’n wipplankstryd met die All Blacks om dié eer.

Die Kiwi’s het in 2009 boaan die ranglys begin en vir bykans ’n dekade lank daar gebly, voordat Wallis en toe Ierland kortstondig op nr.1 was. - stuff.co.nz

Die jongste Wêreldranglys na 2019 se WB-toernooi:

1. Suid-Afrika (94.19)

2. Nieu-Seeland (92.11)

3. Engeland (88.82)

4. Wallis (85.02)

5. Ierland (84.45)

6. Australië (81.90)

7. Frankryk (80.88)

8. Japan (79.28)

9. Skotland (79.23)

10. Argentinië (78.31)