Die Springbokke gaan meer as goeie verdediging en skopwerk benodig om die Wêreldbeker-toernooi te wen.

So sê Ricardo Loubscher, wat Suid-Afrika se agterlynafrigter was toe Heyneke Meyer die Bokke gebrei het. Hy is om kommentaar genader nadat die Springbokke Japan Sondag met 26-3 in die kwarteindronde van die WB-toernooi in Japan geklop het.

“Wêreldbekers word gewen met goeie verdediging, maar desondanks die drieë teen Japan, sal Rassie (Erasmus, afrigter van die Bokke) bekommerd wees oor ons agterlynspel – veral teen spanne soos Engeland of Nieu-Seeland. Goeie verdediging en skopwerk gaan teen hulle nie genoeg wees nie.

“Japan het ook gewys ons is nie so rotsvas onder die hoë bal nie,” sê hy.

Ons verdediging is aggressief en dwing foute af, dus sal Wallis se plan wees om meer takties te wees.

Loubscher, wat deesdae by die Franse klubspan Stade Français afrig nadat hy vroeër vanjaar weg is by die Haaie, verwag dat Wallis Sondag in die halfeind met allerhande maniere gaan kom om die Bokke se balbesit te vertraag.

“Wallis sal ons eerstefase-besit (in die vaste skrums en lynstane) probeer ontwrig, want dit is ons sterk punt. Hulle sal ook vir seker planne maak om ons opskietverdediging te probeer uitbuit met aanvallende skoppe, want aggressiewe lynspoed skep geleenthede vir die aanvallende span.

“Ons verdediging is aggressief en dwing foute af, dus sal Wallis se plan wees om meer takties te wees,” sê Loubscher.

Ricardo Loubscher, voormalige hulpafrigter van die Springbokke. Foto: Getty Images

Die Rooi Drake was die laaste vier keer wat hulle en die Springbokke slaags was aan die wenkant. Suid-Afrika se laaste oorwinning oor Warren Gatland se troepe was in 2015 in die kwarteindronde van die WB in Engeland, toe die Bokke met 23-19 gewen het.

Tog is Loubscher positief en sê dat die Springbokke se vertoning teen Japan rondom Suid-Afrika se sterk punte gebou was.

“Ons het Japan se lynstane en skrums onder druk gesit en deurgaans oorheers in die kontaksituasies.

“Op die verdediging is foute afgedwing met aggressiewe lynspoed en hul besit is die heeltyd stadig gemaak.

“Japan het Faf (De Klerk, skrumskakel) se skoppe goed gehanteer deur middel van slim obstruksie. Maar hulle (die Brave Blossoms) moes deurgaans planne beraam om uit hul halfgebied te kom, wat óf geleenthede vir teenaanvalle bewerkstellig óf ’n lynstaan vir die Springbokke in hul helfte tot gevolg gehad het,” sê Loubscher.

Slaag die Springbokke daarin om die Rooi Drake te klop, sal hulle in die eindstryd teen Nieu-Seeland of Engeland te staan kom. Die All Blacks was die afgelope naweek in ’n omgekrapte bui teen Ierland – maar Loubscher sê hulle is nie onoorwinlik nie.

“Ons en Ierland (einde verlede jaar) het vroeër gewys dit is moontlik.

“Hulle (All Blacks) was ongelooflik op die aanval teen Ierland, maar nog meer indrukwekkend was hul verdediging.”