In 2015 het Makazole Mapimpi in Oos-Londen gesit en as ’n speler van Grens gekyk hoe Bryan Habana die Springbokke in die vorige Wêreldbeker-toernooi in Europa verteenwoordig.

“Ek het nooit in my wildste drome gedink dat ek in vanjaar se toernooi sal speel nie,” sê die 29-jarige Bok-vleuel.

Hy het nog minder verwag om die eerste Bok te word om ’n drie in ’n eindstryd te behaal toe hy in Saterdag se oorwinning van 32-12 oor Engeland in Jokohama gaan druk het.

Hy het nege van sy 14 drieë in soveel toetse hier in Japan behaal. Habana het terloops 15 drieë ná sy eerste 14 toetse vir die Bokke gedruk.

Mapimpi se tien drieë vanjaar is die gesamentlike meeste saam met Wallis se Josh Adams s’n, wat beklemtoon hoe ’n waardevolle speler hy vir Suid-Afrika is.

“Dit was vir my ’n lang pad tot hier. Ek het nooit Cravenweek-rugby of vir die SA skolespan gespeel nie. God is altyd goed vir my.”

Dit was vir my ’n lang pad tot hier. Ek het nooit Cravenweek-rugby of vir die SA skolespan gespeel nie. God is altyd goed vir my.
Makazole Mapimpi

Aangesien hy destyds grootliks senter gespeel het, was lugspel vir hom ’n probleem toe hy vir die Kings begin Superrugby speel het. Mapimpi self het altyd gevoel dis ’n leemte in sy mondering.

In die eindstryd teen Engeland was sy lugspel egter ’n groot bate vir die Bokke.

“Ek en Mzwandile Stick (’n Bok-hulpafrigter) het hard aan my lugspel gewerk. Coach Felix Jones het my ook gehelp.

“Die sukses beteken werklik baie vir my,” sê die skugter Mapimpi.

Ons ontmoet weer! Frans Steyn hou vir die tweede keer die Webb Ellis-trofee vas nadat hy dit ook in 2007 saam met die Springbokke gewen het. Foto: Gallo Images

Frans Steyn was verheug dat hy 12 jaar nadat die Bokke die goue medalje in Parys gewen het, dit weer in Jokohama kon vermag.

“Dis ongelooflik,” sê Steyn.

“Ek is deur so baie sedert die vorige Wêreldbeker.

“Ek het my oom ’n paar weke gelede verloor. Ek het ook my broer Wimpie ’n paar jaar gelede verloor.

“Op pad in die bus na die veld vir die eindstryd het ek aan hulle gedink. Hulle was die vorige keer saam met my voor die eindstryd.

“Die oorwinning was nietemin massief vir ons land, wat nou in ’n slegter posisie as in 2007 is.

“Daar was die afgelope tyd erge droogtes en hope ander dinge.

“Hopelik verenig ons sege die land.”

Steven Kitshoff het sy kaptein, Siya Kolisi, ná die verowering van die Wêreldbeker geprys.

“Hy is ’n ongelooflike kaptein,” sê Kitshoff.

“Hy het baie as ’n speler sedert sy junior speeldae by die Stormers gegroei.

Hy lei deur die voorbeeld te stel. Hy hou nie terug nie. Hy slaag daarin dat die span sy voorbeeld volg en gee elke week sy beste.
Steven Kitshoff

“Hy lei deur die voorbeeld te stel. Hy hou nie terug nie. Hy slaag daarin dat die span sy voorbeeld volg en gee elke week sy beste.”

Die wyse waarop Suid-Afrika se agttal daarin geslaag het om Engeland s’n te oorheers, was vir Bongi Mbonambi bevredigend.

“As ’n voorspeler wil jy altyd die oorhand hê, so krediet aan die hele agttal wat saamgewerk het,” sê hy.

“Veral aan iemand soos Beast Mtawarira wat baie danksy sy ervaring van twee vorige WB-toernooie vir ons beteken het.

“Siya en die ander losvoorspelers het ook met groot energie geskrum,” sê die haker.