’n Skare wag Dinsdag op die Springbokspan se terugkeer na Suid-Afrika op die O.R. Tambo-lughawe aan die Oos-Rand. Foto: Deaan Vivier

Dankie, Suid-Afrika. Dankie vir die steun wat julle aan elkeen van jul seuns gegee het.

Dié woorde van Nathi Mthethwa, minister van sport en kultuur, het Dinsdagmiddag die gevoel opgesom van die seëvierende Springbokrugbyspan wat in Suid-Afrika aangekom het nadat hulle die Wêreldbeker die naweek gewen het.

Cheslin Kolbe, die stervleuel wie se drie die eindstrydsege teen Engeland verseker het, het gesê die span is dankbaar vir die steun wat hy gekry het en wil elke liewe ondersteuner oral in Suid-Afrika graag bedank. Dinsdag het dit gou geblyk dat dit glad nie so maklik gaan wees nie omdat dit lyk of byna almal in Suid-Afrika ’n stukkie van dié Spingbokspan wil hê.

Ondersteuners het reeds van vroegmiddag op die O.R. Tambo-lughawe aangekom en dit het by tye bra chaoties gelyk soos duisende ondersteuners die gewoonlik kliniese aankomssaal in ’n fees van klank en kleur verander het.

Groot en klein, oud en jonk en wit en swart was daar om die span welkom te heet. ’n Mens het vroeg al die idee gekry dat iemand soos dr. Mbuyiseni Ndlozi, EFF-woordvoerder wat hom die naweek uitgelaat het oor “die gebrek aan verteenwoordiging in die Springbokspan”, bra ontuis sou gevoel het tussen die luidrugtige Springbok-ondersteuners.

Die oorwegende kleur was (uiteraard) groen met veelkleurige landsvlae wat oral te sien was. Die geblêr van vuvuzelas het deur die aankomssaal weergalm terwyl mense gedreunsing en gedans het. Ondersteuners met die flambojante soort kleredrag wat gewoonlik by sokkerstadions te sien is, was volop. Talle makarapas was ook te sien; selfs een of twee van Kaizer Chiefs, maar darem ’n hele klompie selfgemaaktes wat met springbokkoppe gespog het.

Cheslin KolbeFoto: Reuters

Een man met sy selfgemaakte makarapa was nogal gewild onder selfoon-fotograwe. Hy het vir foto’s geposeer en soms self sy makarapa uitgeleen aan mense wat daarmee afgeneem wou word.

’n Vrou in ’n rolstoel met ’n liggroen ballon was ook onder dié wat die spelers ingewag het.

Matt Proudfoot, die voorspelerafrigter, en Pieter-Steph du Toit, flank en Wêreldrugby se Speler van die Jaar, was die eerste lede van die Springbokgroep wat onder ’n oorverdowende gejuig die deure van die aankomssaal opgestoot het. ’n Polisie-orkes het dapper probeer om die volkslied te speel, maar dit was skaars hoorbaar bo die toeskouers se gejuig.

Mthethwa het gesê hy het heelwat mense verwag, maar was steeds verbaas om te sien hoeveel ondersteuners by O.R. Tambo opgedaag het. Volgens hom word die Bokke se sege nie net in Suid-Afrika gevier nie, maar ook in Afrika.

“Baie van my eweknieë in Afrika het my gelukgewens en gesê die beker is ook hulle s’n. Dit het my diep geraak,” sê Mthethwa.

Hy was uitgevat in ’n pienk Springbok-trui met ’n groen Springbok-pet op die kop en het die perskonferensie van die eerste klompie jolige spelers bygewoon. Zozibini Tunzi, Mej. Suid-Afrika, was ook op die soms chaotiese perskonferensie waar die stervleuel Makazole Mapimpi ’n nuwe rekord opgestel het deur sekerlik die eerste Bok word wat die f-woord twee keer op só ’n byeenkoms gebruik het.

Nathi Mthethwa, minister van sport en kultuur, Dinsdag in Sprinkbokdrag op die O.R. Tambo-lughawe. Foto: Sydney Seshibedi, Gallo Images

Maar ’n mens Dinsdag die idee gekry dié Bokke sal alles vergewe word, self ’n tongglips of drie.

Die heelagter Frans Steyn het op die perskonferensie gesê hy is nou dieper onder die besef van wat die Bok-sege vir die land beteken as toe hy in 2007 as 19-jarige sy eerste goue Wêreldbekermedalje gekry het.

“Hierdie is ’n spesiale span, ’n baie spesiale span,” het Steyn gesê.

Buite die saal waar die perskonferensie gehou is, het die mense nog teen druktyd gewag op die koms van Siya Kolisi, die kaptein, en Rassie Erasmus, die afrigter. Die lang wag het hul gees beslis nie gedemp nie: Elke aankomeling is luid toegejuig, maak nie saak wie dit was nie.

Ander het gedurig selfies voor die standbeeld van wyle Oliver Tambo, oudpresident van die ANC, geneem. Wat Dinsdag afgespeel het in die lughawe wat na hom vernoem is, is iets waarvoor hy sy hele lewe lank geveg het. Vir hom het die nuwe Suid-Afrika egter te laat gekom.

Suid-Afrikaners kon dit wel Dinsdag beleef. ’n Mens wonder hoeveel van hulle besef hoe bevoorreg ons eintlik is.