Die Springbokke sal hul aandag oor die volgende paar dae nie net op hul moontlike teenstanders in die Wêreldbeker-kwarteindstryd rig nie, maar ook op die tifoon Hagibis, wat dreig om ontwrigtende weer na die Wêreldbeker-toernooi te bring.

Daar word voorspel dat dié supersterk tifoon Tokio en Jokohama Saterdag of Sondag sal tref, hoewel dit voor dan nog van koers kan verander.

Dié super-tifoon kan oorstromings meebring. Die hele Japan word ook gewaarsku dat skadelike winde van tot 270 km/h groot ontwrigting kan meebring.

Die Bokke is nog in Kobe en beplan om die naweek, waarskynlik Sondag, na Tokio te reis.

’n Moontlikheid bestaan dat dié tifoon hulle en die Suid-Afrikaanse rugbyskrywers wat hier is, se reisplanne deurmekaar sal krap.

Die Japanse Meteorologiese Agentskap (JMA) sê die tifoon Hagibis is die kragtigste op hul skaal.

Weens die tifoon bestaan daar nog onsekerheid of Saterdag se Wêreldbeker-groepwedstryd in Jokohama tussen Engeland en Frankryk sal plaasvind.

Weens die tifoon bestaan daar nog onsekerheid of Saterdag se Wêreldbeker-groepwedstryd in Jokohama tussen Engeland en Frankryk sal plaasvind.

Selfs die gasheerland, Japan, se beslissende groepwedstryd Sondag in Jokohama teen Skotland is in die gedrang.

Dié wedstryd kan bepaal of Japan in die kwarteindstryd teen die Bokke te staan kom.

Wêreldrugby het in ’n nuusverklaring oor die bedreiging wat die tifoon inhou gesê openbare en spanveiligheid is sy grootste prioriteit.

“Alhoewel ons ’n sterk gebeurlikheidsplan vir groepwedstryde het, sal sulke planne, indien nodig, slegs geïmplementeer word as die veiligheid van spanne, ondersteuners en arbeidsmag gewaarborg kan word.

“Dit sou onvanpas wees om op hierdie stadium kommentaar te lewer op enige gebeurlikheidsplanne.”

Volgens toernooireëls kry elke span twee ligapunte indien hul wedstryd weens ’n tifoon afgelas moet word. In Japan se geval sal só ’n scenario meebring dat hy Groep A wen en teen die Bokke speel.

Ierland, Japan of Skotland? Rassie Erasmus, die Springbok-afrigter, wou nie sê wie hy sou verkies om in die kwarteindronde aan te durf nie.Foto: Getty Images

Rassie Erasmus, die Bok-afrigter, het ná sy span se wegholsege van 66-7 oor Kanada in Kobe gesê hulle sal die volgende paar dae baie tyd spandeer om Japan, Ierland en Skotland se spel te bestudeer.

Hy het sy woorde versigtig gekies oor teen wie die Bokke sou verkies om in die kwarteindronde te speel.

“As ek een ding sê, sal ek in die moeilikheid wees – as ek ’n ander ding sê, sal ek in die moeilikheid wees,” het Erasmus gesê.

“Ek ken die Iere so goed en hulle is so professioneel. Hulle was onder druk en hanteer dit goed. Joe (Schmidt) is ’n uitstekende afrigter en ek ken die spelers goed.

“Hulle sal ’n groot bedreiging wees. Ek sal senuweeagtig wees as ons teen hulle speel.

“Japan is ’n baie groter bedreiging as wat mense dink. Hulle het spanne soos Fidji in die Pasifiese Nasiesbeker-toernooi geklop en het nou die dag met Ierland afgereken.

Hulle het spanne soos Fidji in die Pasifiese Nasiesbeker-toernooi geklop en het nou die dag met Ierland afgereken.
Rassie Erasmus

“Hulle het massiewe steun. So as jy tussen die twee moet kies, is ek nie baie seker wie die maklikste weddenskap sou wees nie.

“Skotland kan nog steeds daar deurglip. Nou is die tifoon moontlik die naweek hier, wat dit nog interessanter sal maak.”