In 2007 was Eddie Jones se invloed enorm toe die Springbokke die Wêreldbeker verower het. Nog ’n Jones, dié keer Felix, is volgens die ysterflank Pieter-Steph du Toit en die Bok-hulpafrigter Mzwandile Stick besig om nou ’n stewige bydrae in die Bokke se voorbereiding vir vanjaar se skouspel in Japan te lewer.

Die 32-jarige Ier is aangestel om teenstanders se verdediging te ontleed en die Bokke in die proses gevaarliker op die aanval te help maak.

“Felix is ’n harde werker en verstaan die spel,” het Du Toit gesê.

“Op sy tweede dag in die kamp het ek in die trein langs hom gesit waar hy sy rekenaar uitgehaal en individueel met ons begin werk het. Hy fokus op die individu, wat ons as spelers geniet.

“Ons is tans (as ’n span) baie professioneel. Ons probeer onsself as individue verbeter. Slaag ons daarin, sal die span daarby baat.”

Jones het ’n goeie dosis ervaring van Japanse toestande en ’n span soos Ierland se binnewerkinge teen wie die Bokke in ’n moontlike kwarteindstryd te staan kan kom.

Jones was in 2017 ’n week saam met Joe Schmidt se Iere op hul toer in Japan en het ’n sterk verhouding met die Ierland-baas gehad. Hy het duidelike kennis van hul taktiese fokus.

“Een ding wat hy ons bied, is dat hy die Europese spanne baie goed verstaan en dat hy ook ’n goeie verhouding met sommige van die afrigters in Nieu-Seeland het,” het Stick gesê.

“So, dis inligting wat ons van hom kon kry.

“Ek moet eerlik wees en sê dat hy ’n baie oulike ou is. Dit is lekker om met iemand te werk wat passievol oor die aanval is. Daar is baie wat hy in ’n kort ruk tot ons span bygedra het.”

Stick meen Jones se hand kon reeds in die Wêreldbeker-losmaker teen Japan gesien word.

Du Toit-hulle hoop dat Jones se kennis ook ’n verskil in Saterdag se Wêreldbeker-groepwedstryd teen die All Blacks in Jokohama sal maak.

Volgens die Bok-flank is dit egter bog dat die All Blacks en Bokke met die oog op dié toets in hul vorige ontmoeting in Wellington iets teruggehou het toe sake met 16-16 gelykop geëindig het.

“Ek dink nie enige span het in Wellington iets teruggehou nie,” het Du Toit gesê.

“Ek glo albei spanne het alles gegee. Dit sal interessant wees om te sien met watter nuwe planne die All Blacks vorendag kom. Ons het ook een of twee nuwe planne.”

Du Toit en sy spanmaats verkies om in die aanloop tot Saterdag se toets hul aandag net te rig op wat in hul beheer is.

“Ons as ’n span moet ons aandag rig op wat ons sterk maak. Ons weet wat ons moet doen en het goeie ontledings gedoen oor hul moontlike swak plekke wat ons kan uitbuit. Ek glo hulle het dieselfde met ons gedoen,” sê Du Toit.

Hy beskou die steelkant-flank Ardie Savea veral as ’n bedreiging in die All Black-span.

“Hy is sterk op sy bene. Hy is ’n slim speler en goed by die afbreekpunte. Ons sal seker moet maak dat ons spel by die afbreekpunte goed is.

“Ons moet ook seker maak dat ons vaste fasette werk, want die All Blacks is lief om dit aan te val.”