Bring jou landsvlae en trek die Groen-en-goud aan, want die Sprinbokke is vandag in Durban en die 2019-Wêreldbeker (WB)-kampioene is die naweek in die Oos-Kaap.

Die Springbokrugbyspan sit Saterdag hul oorwinningsparade in Oos-Londen voort voordat hulle Sondag deur die strate van Port Elizabeth en Uitenhage sal beweeg. Saam met hulle kom natuurlik die Webb Ellis-trofee wat hulle verlede naweek in Japan gewen het met hul sege oor Engeland in die WB-eindstryd.

Die sakelui van Port Elizabeth wat saam met die Rotariër-klub van Port Elizabeth Sunrise in ’n japtrap vir twee enorme reklameborde gesorg het om die Springbokke die naweek in die stad te verwelkom. Van links is Anabel Koen (Ballistic Design), Ian Meaker (IMB), Brett Parker en Ruan Greyvenstein (Greyvenstein Prokureurs), Ian Olivier (Pam Golding, Port Elizabeth), Angelique Timm (Rotariër-klub van PE Sunrise) en Alan Taylor (Bukani Print).

Veral in Port Elizabeth en omstreke word ’n groot opkoms verwag, met Siya Kolisi, kaptein, en Rassie Erasmus, afrigter, wat albei boorlinge van die streek is.

In Oos-Londen word ’n spesiale verwelkoming vir Makazole Mapimpi en Lukhanyo Am verwag, wat albei in King William’s Town, sowat 50 km buite Oos-Londen, skoolgegaan het.

Die Buffalo Stad-metro in Oos-Londen het Donderdag die gemeenskap aangemoedig om die oorwinningsparade by te woon wat Saterdag om 09:00 by die stadsaal afskop.

Met hul eerste stop sal Erasmus en die span met die beker by die burgemeester, die LUR vir sport, en die premier spog.

Daarna sal die Springbokke in die rigting van Duncan Village beweeg, voordat hulle onder meer deur Mdantsane, Amalinda, Nahoon en Oostelike Strand sal toer.

Sondag sal die rugbykampioene die oorwinningsparade in Port Elizabeth by die stadsaal begin voordat hulle in die rigting van Zwide (waar Kolisi se ouerhuis is) sal beweeg, dan deur Motherwell, Uitenhage, Despatch en terug stad toe na die Greenacres-winkelsentrum. Die parade kom omstreeks 13:00 tot ’n einde, waarna die span na die lughawe sal vertrek om na Kaapstad te vlieg.

Voordat die Springbokke egter die stad Sondag verlaat, sal hulle ’n enorme reklamebord by die lughawe se ingang teëkom wat hulle gelukwens. Dit is een van twee borde wat deur die Rotariër-klub van Port Elizabeth Sunrise en enkele sakelui in die stad opgerig is. Die tweede bord kan op die hoek van La Roche-rylaan en Strandfonteinweg in Humewood gesien word. Die borde is binne drie dae ontwerp en gedruk om die Springbokke te verwelkom.

“Verskeie skenkers is genader om met die finansiering vir die produksie van die reklameborde te help. Terselfdertyd is daar beoog om geld vir die Rotariër-klub van Port Elizabeth Sunrise in te samel,” sê Angelique Timm, president van die betrokke Rotariër-klub.

“Rotariërs is gedurig besig met projekte om na behoeftige organisasies om te sien aangesien baie tradisionele finansiering nie meer deur die huidige regering ondersteun word nie en organisasies dus uiters behoeftig is. Ons hoop die inisiatief sal daadwerklik bydra tot ’n gulde verwelkoming vir ons seëvierende koningspan.”

Owerhede het ook Donderdag bevestig hulle is op gereedheidsvlak om die Springbokke en hul ondersteuners veilig in die stad te vergesel.

“Alle rolspelers, insluitende die metro se wetstoepassers en openbare-orde-polisiëringeenheid, sal die besoek monitor om die veiligheid van die WB-wenners te verseker terwyl hulle met hul ondersteuners in Port Elizabeth omgaan,” sê kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder.

Ook Charles Bramwell, provinsiale verkeerswoordvoerder, sê hul beamptes sal alle betrokke paaie beman en op die uitkyk vir roekelose en nalatige bestuurders wees, asook mense wat onder die invloed van drank bestuur.