Jake White is bekommerd dat die Springbokke ’n buitengewoon maklike pad na Sondag se Wêreldbeker-halfeindstryd teen Wallis in Jokohama gehad het.

Die voormalige Bok-afrigter waaronder Suid-Afrika die Wêreldbeker in 2007 gewen het en ’n soortgelyke pad na die eindstryd in Frankryk gehad het as wat die geval sover met Rassie Erasmus se span vanjaar is, glo nietemin dit versterk Wallis se kanse op ’n oorwinning.

Jake White met die WB-trofee wat die Bokke in 2007 gewen het. Foto: Gallo Images

“Suid-Afrika het dit sover maklik gehad,” sê White in ’n onderhoud aan rugbyworldcup.com.

“Hulle sal dit weet. Hulle sou altyd tweede in hul groep eindig en toe kry hulle Japan.”

White glo die Bokke sou verkies om teen Frankryk in die kwarteindstryd te speel wat 20-19 teen Wallis verloor het.

Desondanks het Japan se treffende vertoning in die Wêreldbeker hom herinner aan die ikoniese verskyning van oudpres. Nelson Mandela in ’n Springbok-trui tydens die eindstryd van 1995 se Wêreldbeker.

Hy glo die tuisskare sou Japan ook aanvuur.

White meen egter as die keuse voor die Wêreldbeker aan Erasmus-hulle gestel is om teen Japan in die kwarteindstryd te speel, sou hulle dit aanvaar het.

Al het Japan teen Ierland en Skotland in hul groepfase afgereken, glo White die Bokke is nog net teen die All Blacks getoets en is dit moeilik om hul werklike krag te bepaal.

“Hulle was goed genoeg om hul ander wedstryde te wen, maar die ware toets kom nou.”

Suid-Afrika kon ondanks sy suksessyfer van 85% in Wêreldbekers teenoor Wallis se 62% die Rooi Drake laas in 2015 se Wêreldbeker klop.

Wallis se span:
15 Leigh Halfpenny, 14 George North, 13 Jonathan Davies, 12 Hadleigh Parkes, 11 Josh Adams, 10 Dan Biggar, 9 Gareth Davies, 8 Ross Moriarty, 7 Justin Tipuric, 6 Aaron Wainwright, 5 Alun Wyn Jones (k), 4 Jake Ball, 3 Tomas Francis, 2 Ken Owens, 1 Wyn Jones. PLAASVERVANGERS: 16 Elliot Dee, 17 Rhys Carre, 18 Dillon Lewis, 19 Adam Beard, 20 Aaron Shingler, 21 Tomos Williams, 22 Rhys Patchell, 23 Owen Watkin.

Warren Gatland se span was in die laaste vier toetse tussen die lande aan die wenkant waarvan drie in Cardiff gespeel is en een in Washington DC.

“Die feit dat hulle so deur Frankryk in hul kwarteindstryd gedruk is, sou Wallis ’n massiewe hoeveelheid selfvertroue gee.

“Net deur na Dan Biggar se lyftaal te kyk ná die sege (oor Frankryk), die wyse hoe hy gereageer en die skare betrokke gekry het. Dit is hoekom ek dink Wallis kan dit doen.

“Hulle het nou vir ’n ruk Suid-Afrika se nommer. Wat ek as ’n afrigter sou vrees is dat Wallis nie verlede week goed was nie, maar steeds kon wen. Dít beteken baie as jy momentum soek.”

Erasmus sal weet dat sy Bokke ook nie naastenby op hul beste teen Japan was nie en minstens vyf drieë weens swak individuele foute voor rustyd weggegooi het.

Die Bokke sal wel baie selfvertroue put uit hul spel in die laaste sowat 15 minute van die toets teen Japan.

White het ’n hoë agting vir Wallis se kaptein en breker-slot Alun Wyn Jones.

Hy glo hy is soos die Nieu-Seelander Richie McCaw (2011 en 2015), Australië se John Eales (1991 en 1999) en Suid-Afrika se eie Francois Pienaar (1995) bestem om die Wêreldbeker omhoog te hou.

“Hy het die meeste verbetering as ’n speler in toetsrugby getoon wat ek nog gesien het.

“Soos ’n Aaron Smith vir die All Blacks en Johnny Sexton vir Ierland, is hy Wallis se hartklop. Met hom daar het Wallis ’n kans.”