21 September: Groepwedstryd teen Nieu-Seeland in Jokohama.

Nieu-Seeland wen 23-13.

Die Springbokke het die All Blacks vroeg teen die toue gehad, maar opnuut geleer dat jy nie kan bekostig om vir ’n oomblik jou konsentrasie teen die Kiwi’s te verloor nie.

’n Poging tot ’n strafdoel wat aan die Bokke ’n voorsprong van 6-0 kon besorg het, is deur Handré Pollard verbrou en onmiddellik daarna was daar ’n swak aangee deur Faf de Klerk, wat die momentum van die wedstryd verander het. Die All Blacks het binne vyf minute 17 punte aangeteken.

Die Bok-blits Makazole Mapimpi sit voet in die hoek op pad doellyn toe in die sege van 57-3 oor Namibië.Foto: Getty Images

28 September: Groepwedstryd teen Namibië in Toyota.

Suid-Afrika wen 57-3.

Die Bokke se dryfwerk van die lynstane af het die grondslag vir dié sege gelê, terwyl Schalk Brits, wat die span van agtsteman af aangevoer het, sy uitsonderlike balvaardighede ten toon gestel het.

Suid-Afrika, kon danksy sy voorspeler-oorheersing met tye op die aanval ook die skouers mooi oopmaak. Nege drieë teenoor nul vertel die voorspelbare verhaal.

Duane Vermeulen, die Springbok-agtsteman, was die slagoffer van ’n boorvat wat die Italiaanse stut Andrea Lovotti ’n rooikaart gekos het.Foto: Reuters

4 Oktober: Groepwedstryd teen Italië in Sjisoeoka.

Suid-Afrika wen 49-3.

’n Mens het meer van Italië verwag as vuilspel en twyfelagtige beserings om onbetwiste skrums af te dwing in ’n poging om Suid-Afrika se agttal as ’n faktor uit die wedstryd te haal.

Die boorvat op Duane Vermeulen het egter in die Italianers se gesig ontplof, met die loskopstut Andrea Lovotti wat ’n rooikaart gekry het. Daar was ook oorgenoeg aanvallende pyle in die Bokke se koker vir die Azzurri se skrumplan om op dadels uit te loop.

Cobus Reinach op pad doellyn toe vir een van sy drie drieë teen Kanada. Foto: Getty Images

8 Oktober: Groepwedstryd teen Kanada in Kobe.

Suid-Afrika wen met 66-7.

Cobus Reinach, die Bokke se skrumskakel, het by die uitsoekgroep van spelers aangesluit wat ’n driekuns aan drieë in ’n Wêreldbeker-wedstryd kon aanteken,

Dié Bok-buksie, wat die vinnigste WB-driekuns nóg aangeteken het, het die Bokke op die snelweg na ’n gemaklike sege geplaas. Suid-Afrika was effens futloos in die tweede helfte, maar wie kan kla oor 10 drieë in 80 minute?

Faf de Klerk se knaende skopwerk van agter die oond het baie Bok-ondersteuners geïrriteer, maar Suid-Afrika se wedstrydplan was in die kol teen Japan. Foto: Getty Images

20 Oktober: Kwarteindstryd teen Japan in Tokio.

Suid-Afrika wen met 26-3.

Om in die kwarteindronde teen die gasheerland te speel, was ’n onverwagse wending en ook ’n baie moeilike sending gegewe die emosionele wind in Japan se seile.

Die Bokke het puik begin met ’n drie deur Makazole Mapimpi, maar vir ’n lang ruk in die eerste helfte stroomop geswem. ’n Rustydpraatjie deur hul afrigter, Rassie Erasmus, was nét die regte doepa. Suid-Afrika het die bal by sy voorspelers gehou en doodeenvoudig die lewe uit Japan gewurg.

Damian de Allende se krag kry hom oor die doellyn vir sy kritieke drie in die halfeindstryd teen Wallis.Foto: Getty Images

27 Oktober: Halfeindstryd teen Wallis in Jokohama.

Suid-Afrika wen met 19-16.

Dit was uitkloprugby in die ware sin van die woord, met konserwatisme wat hoogty gevier het. Suid-Afrika was egter nooit agter nie en het meestal die inisiatief gehad.

Damian de Allende se kraglopie doellyn toe, die deurslaggewende omkeerbesit wat Francois Louw afgedwing het en Handré Pollard se skopstewel het die beslissende houe teen Wallis se kennebak geplant. – Stephen Nell