Die Springbokke se klereborg, Asics, is verantwoordelik vir die verkeerde truie waarin Handré Pollard en Lood de Jager in Sondag se Wêreldbeker-kwarteindstryd teen Japan in die Tokio-stadion gespeel het.

“ ’n Deurmekaarspul aan verskaffer-kant het daartoe gelei dat ons ’n klein hoeveelheid truie met verkeerde handelsmerke ontvang het. Daar was nie genoeg tyd om dit te vervang nie,” het ’n woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie oor dié blaps gesê.

Lood de Jager in die verkeerde Bok-trui teen Japan. Foto: Getty Images
Lood de Jager in die “regte” Bok-trui, waarmee hy die kwarteindstryd teen Japan begin het. Op dié trui is die Springbok-embleem op die linkermou. Foto: Getty Images

Op die regte truie pryk die Wêreldbeker-logo op die regterbors en die Springbok op die linkermou.

Pollard en De Jager se truie het egter die Springbok-embleem op die regterbors gehad. Buite WB-toernooie is dít die gebruiklike plek waar die Bok-embleem verskyn.

Pollard het vanuit die staanspoor die verkeerde trui gedra, terwyl De Jager oënskynlik met die regte een begin het in dié kragmeting, wat die Bokke met 26-3 gewen het.

Weens die humiditeit ruil die Bokke rustyd, soos in hul vorige wedstryde hier in Japan, truie. De Jager het waarskynlik toe die “verkeerde” trui aangetrek.

Daar kon nog nie uitsluitsel verkry word of die Bokke enige toernooireëls oortree het en geldelik beboet sal word deur Wêreldrugby nie.

Tendai Mtawarira
Tendai Mtawarira het ’n geelkaart gekry vir ’n boorvat op sy Japanse eweknie, Keita Inagaki. Foto: Getty Images

* Die Bokke was intussen Maandag nog op hete kole oor Beast Mtawarira se beskikbaarheid vir Sondag se halfeindstryd teen Wallis.

Hy het die naweek ’n geelkaart gekry vir ’n boorvat op sy Japanse eweknie, Keita Inagaki. Baie kenners meen dit kon netsowel ’n rooikaart gewees het.

Die uitwysbeampte vir dié kragmeting het egter 36 uur ná die afskop om ’n voorval, wat hy meen ’n rooikaart geregverdig het, na ’n onafhanklike tugkomitee te verwys. Die verhoor moet binne 48 uur ná die eindfluitjie plaasvind.

Die 36 uur-tydperk verstryk Dinsdagoggend omstreeks 09:00 (Japan-tyd). 

* Die Springbokke se kragmeting met Wallis skop Sondag om 11:00 in Jokohama af. Nieu-Seeland en Engeland pak mekaar Saterdag in die eerste halfeindstryd om 10:00. Dié wedstryd is ook in Jokohama.