Rassie Erasmus se volgende uitdaging ná die verowering van die Wêreldbeker met ’n oorwinning van 32-12 oor Engeland in gister se eindstryd in Jokohama, Japan, is om bestendigheid in Springbok-rugby te hervestig.

Die lekkerte van ’n droom wat waar word . . . die Bok-kaptein Siya Kolisi en linkervleuel Makazole Mapimpi juig in die oomblikke ná die WB-eindstryd.Foto: Getty Images

En sy eerste uitdaging gaan wees om die Springbokke se skietgoed verder op te knap met die oog op die besoek van die Britse en Ierse Leeus in 2021.

Erasmus, wat as die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se direkteur van rugby steeds nou by die Bok-span betrokke sal bly, al beplan hy om ’n nuwe hoofafrigter aan te stel, wil nou ten alle koste hê dat die Bokke die wen-momentum wat hulle in die Wêreldbeker opgebou het oor die volgende vier jaar moet behou, en nie soos ná 1995 en 2007 sukses net moet prysgee nie.

Die kanse lyk goed dat sy assistent Jacques Nienaber die Bokke vorentoe kan brei.

Al sal hy minder in die openbare oog wees, sal Erasmus vorentoe steeds grootliks die drywer van die Bokke se 10-ton-trok bly.

Erasmus se doelwit is nou om te verseker dat die Bokke hul bestendigheid behou.

“My aanvanklike doel toe ek as afrigter oorgeneem het, was om die Wêreldbeker te wen,” het Erasmus gesê.

“Toe ek aangestel is, was daar sowat 618 dae tot voor die Wêreldbeker.

“Daar is nou sowat 614 dae voor die reeks teen die Ierse en Britse Leeus. Ons sal ons beplanning daarvoor begin as ons in Suid-Afrika land.

“As ons ons volgende toets verloor, sal almal van ons sukses in die Wêreldbeker vergeet.

“Ons weet hoe dit werk en hoe onbestendig Suid-Afrikaanse rugby die jaar ná ’n Wêreldbeker is.

“Ons doelwit is om bestendig te wees. Daar is ’n Rugbykampioenskap om volgende jaar te wen.”

Erasmus het na Eddie Jones verwys wat volgens hom iets soos 23 uit sy eerste 24 toetse as Engelse afrigter gewen het.

Hy het ook Warren Gatland, Wallis se afrigter, as ’n voorbeeld gebruik wat bestendigheid in Walliese rugby teruggebring het.

Baie mense het gesê ons sal dit nie maak nie, maar Suid-Afrikaners gee nie op nie.

“Ons moet dit nou doen. Ons moet daarna streef om bestendig suksesvol te wees.

“Ons was vrot in 2018, maar was vanjaar goed. Ons het ons bestendigheid terug en moet vorentoe daarop voortbou.”

Die Bokke sal, soos sedert sy aanstelling, vorentoe verskeie klein doelwitte stel. Een van die klein doelwitte wat hulle onder hom bereik het, was om die All Blacks verlede jaar in Wellington te klop.

Dit het die spelers en ondersteuners die nodige selfvertroue gegee om te glo dat Wêreldbeker-sukses wel vanjaar moontlik was.

“Ons het daardie All Black-wedstryd soos ’n kwarteindstryd benader, maar toe verloor ons teen Australië en Argentinië.

“Ek het besluit as ons nie die All Blacks wen nie, sal ek as afrigter bedank aangesien ek nog nooit in drie wedstryde verloor het nie. Ek het gedink as ons dit nie regkry om die All Blacks te klop nie, verdien ek nie om die Bok-afrigter te wees nie.

“Maar ons kon daarin slaag om Nieu-Seeland te klop, wat die hele ingesteldheid verander het. Dit was vir ons baie belangrik om nie in Wellington te verloor nie.

“Ons het toe ’n paar maande later ook gelykop teen Nieu-Seeland in Wellington gespeel.

“Daardie uitslag was ook belangrik vir ons om selfvertroue te bou sodat mense weer in ons kon glo.”

Erasmus se beplanning het ’n reuse-invloed op die Bokke se Wêreldbekerveldtog gehad.

“Ons het lank voor die Rugbykampioenskap besluit dat ons 20 weke saam moes wees aangesien ons as ’n groep soveel agter die ander spanne was.

“Ons het dit as ’n reuse-eer beskou om die Wêreldbeker te probeer wen. Ons is nou in week 19. Week 20 sou altyd die toer met die trofee in Suid-Afrika wees.

“Ons is trots. Ons weet ons het baie geluk aan ons kant gehad.

“Baie mense het gesê ons sal dit nie maak nie, maar Suid-Afrikaners gee nie op nie.”

Een van Erasmus se sterspelers in die eindstryd, Frans Malherbe, moes homself verskeie kere knyp om seker te maak dis die werklikheid en nie net ’n droom dat die Bokke die Wêreldbeker gewen het nie.

“Ek kan nie beskryf hoe ek voel nie,” het Malherbe, wat met sy skrumwerk een van die helde teen Engeland was, gesê.

“Dit moet nog insink – hopelik deur die aand as ons dit vier.

“Ek het op die bank gesit en gevrees dit is ’n droom, maar dit is uiteraard nie.

“Dis ’n ongelooflike gevoel om deel van iets spesiaals soos dit te wees; om deel van ’n groep te wees wat dit bereik het.”

Die 28-jarige Malherbe se fiksheid was met die aanvang van die toernooi ’n bekommernis, maar hy het die Wêreldbeker met ’n aantal skitterende vertonings afgesluit.

Hy, Beast Mtawarira, Vincent Koch, Steven Kitshoff, Thomas du Toit en Trevor Nyakane was as die stutte van die Bokke se sterre in die toernooi.

Nyakane is spesiaal ná sy besering deur die Bok-kamp ingevlieg om saam met nog ’n beseerde Jesse Kriel die eindstryd by te woon.

“Dinge het vir ons mooi in die eindstryd uitgewerk,” het Malherbe gesê.

“Die skrums het baie goed vir ons in die eerste helfte verloop. As ’n stut kan jy nie vir meer vra nie.

“Ek is regtig, regtig baie gelukkig met almal se vertoning.

“Ons het probeer om al die geluide van buite af weg van ons as spelers te hou. Ons het ’n plan gehad en het daarby gehou.

“Ons het dié week net twee dae se oefening gehad en op ons uitvoering gefokus.”

Die verowering van die Wêreldbeker gaan volgens Malherbe nie oor individue nie, maar oor die span, die ondersteuners en Suid-Afrika.

“Dis ongelooflik. Dis wonderlik om hiervan deel te wees en dit met die span te deel.

“Elkeen het sy storie en sy hoogtepunte en laagtepunte. Dis dinge wat gebeur.

“Dit was regtig mal-lekker om aan die Webb Ellis-trofee te raak.

“Hopelik kry ek verdere kanse om dit omhoog te hou. Ek het meer as ’n bier daaruit gedrink. Hopelik kan ons dit vir ’n paar dae hou en langer tyd daarmee hê.”