As jy bygelowig was, sou jy dalk gevoel het dat dit ook maar goed is die Springbokke speel Dinsdag in Kobe, en nie in Port Elizabeth nie, teen Kanada in die Wêreldbeker-toernooi.

Want hoewel weerlig glo nie twee keer op dieselfde plek slaan nie, het Port Elizabeth ook maar deur die jare vir sommige Springbokke ’n plek geword om te vermy.

“Daar loop altyd iets skeef in Port Elizabeth.”

Só het die Bokke mekaar tydens 1995 se WB-toernooi in Suid-Afrika gewaarsku.

Die ding het die vorige jaar begin toe die Bokke in die Baai teen Argentinië gespeel het.

Die Bokke het gemaklik gewen en van hulle het die aand in ’n plaaslike nagklub gaan jol.

Dis toe waar ’n vrou glo James Small aan die boud geknyp het. James wou sien aan wie daardie knypende vingers behoort en toe raak dinge lelik.

Die uiteinde was dat Small nie vir die Bokke se toer aan die einde van die jaar na Brittanje gekies is nie.

So, “pasop vir Port Elizabeth,” het die Bokke mekaar in 1995 op die vliegtuig na die Baai gewaarsku.

Dit sou hulle laaste groepwedstryd wees. Teen Kanada. In die Boet Erasmus-stadion.

Die aand voor die kragmeting het die Bokke in die stadion geoefen, toe gaan die spreiligte twee keer af. Wat as dit gedurende die wedstryd sou gebeur?

Dié soort van ding sal nie in ’n Wêreldbeker-toernooi gebeur nie, en nie in Suid-Afrika nie.
Francois Pienaar

“Dié soort van ding sal nie in ’n Wêreldbeker-toernooi gebeur nie, en nie in Suid-Afrika nie,” het Francois Pienaar, die Bokke se kaptein, hoopvol gesê.

Die Saterdagaand het die spanne op aandag gestaan en die volksliedere het begin speel. Toe gaan die spreiligte af.

In die stikdonker het ’n Springbok geprewel: “Iets loop altyd in Port Elizabeth skeef.”

Pienaar het sy manne van die veld af gelei. Daar is kerse op die fisioterapeut se tafel aangesteek en die Bokke het maar rondgesit. Pienaar het hulle probeer kalm hou.

45 minute later is die spreiligte weer aangeskakel en kon die wedstryd gespeel word.

James “Bullet” Dalton het die geveg probeer stopsit, toe kry hy sommer die trekpas! Foto: Gallo Images

Dit was hard. Die Bokke moes 147 duikslae uitvoer. Maar vir 70 minute was Pienaar “trots oor ons dissipline” en hy was ook tevrede dat sy span met 20-0 voorgeloop het.

Toe smyt Scott Stewart vir Pieter Hendriks teen die advertensieborde vas. Die manne het aan mekaar begin pluk.

James “Bullet” Dalton het vir Stewart en Hendriks uitmekaar probeer hou. Die vuiste het begin klap en dit het die Ierse skeidsregter David McHugh lank geneem voordat hy weer in beheer kon kom.

Hy stuur toe vir Dalton van die veld af.

Hannes Strydom is toe ook al af met ’n bloeiende oogbank. Joel Stransky se oog was potblou. Joost van der Westhuizen kon skaars asemhaal ná ’n hou op die gorrelpyp.

“Hy (Dalton) was besig om die geveg te probeer stopsit,” het Pienaar aan McHugh gesê. “Hy het nie eens ’n hou gegooi nie.”

Maar daar stap Dalton toe met sy hande op sy kop van die veld af.

McHugh het twee Kanadese, Rod Snow en Gareth Rees, ook van die veld af gestuur.

In 2002 sou McHugh in Durban met ’n karretjie van die veld afgeneem word nadat ’n Springbok-ondersteuner, Pieter van Zyl, hom omtrent uit sy stewels uit geskouer het.

In 2002 sou McHugh in Durban met ’n karretjie van die veld afgeneem word nadat ’n Springbok-ondersteuner, Pieter van Zyl, hom omtrent uit sy stewels uit geskouer het. Maar dis ’n ander storie.

Terug na die “Battle of the Boet”, soos die wedstryd wêreldwyd berug geword het.

As ’n mens nou na foto’s van die wedstryd kyk, dan wonder jy wie se besluit dit was om die Kanadese spelers se nommers in daardie onooglike wit Esdoring-afbeeldings op die truie te sit.

’n Paar uur ná die wedstryd word Hendriks toe ook geskors vir sy aandeel in die geveg. Hennie le Roux, wat aanvanklik vir ’n regterhaakhou uitgewys is, het losgekom.

Die “swemgala” tussen die Bokke en die Franse in 1995 in Durban. Foto: Kitch: Truimph of a decent man

Die trane het gevloei. Maar die Bokke se WB-veldtog moes voortgaan en Chester Williams en Naka Drotské word toe in Hendriks en Dalton se plekke opgeroep.

Die Bokke het die kwarteindstryd teen Samoa maklik gewen, maar toe kom die swem-gala teen Frankryk in Durban.

Kingspark het omtrent soos ’n groot swembad gelyk.

“Wat gebeur as die wedstryd afgestel word?” het die Bokke mekaar gevra.

“Ons word uitgeskakel, want een van ons ouens (Dalton) is van die veld afgestuur en nie een van hulle (Frankryk) nie,” was die antwoord.

Geen wonder dan dat die Bokke se bestuur soos tiere baklei het dat die halfeindstryd teen die Franse wel gespeel moes word nie.

En die res is, soos die gesegde lui, geskiedenis.

Bron: Rainbow Warrior – Francois Pienaar.

Hoogtepunte van die Boet Erasmus-toets: