Die Springbokke wil volgens Elton Jantjies ’n 8/10- of ’n 9/10-vertoning in Saterdag se Wêreldbeker-kragmeting met Namibië in Toyota lewer.

“Daar is baie positiewe dinge uit die toets teen die All Blacks waarop ons teen Namibië wil voortbou,” sê die 29-jarige Bok-losskakel.

“Daar is klomp dinge waarop die afrigters wil hê ons teen Namibië moet verbeter.

“Onder dit tel ons sterkpunte soos skopwerk, lugspel, aanval en verdediging.

“Dit is dinge wat ons die afgelope tyd baie ontwikkel het. Ons wil graag ’n punt van 8/10 of 9/10 hê, nie ’n 6/10 nie. Dit is eintlik alles dinge waarmee ons as ’n span goed is.

“Ons beskou dit as iets positief en rig ons aandag op niks negatief nie.”

Jantjies sal Saterdag die losskakel wees met verskeie eerstekeuse-spelers wat nie betrek sal word nie.

Hy en een van sy skakelmaats teen Namibië, Herschel Jantjies, is kamermaats op toer. Cobus Reinach sal ook ’n kans kry.

“Ek het nog altyd gesê Herschel is ’n spesiale speler. Hy is ’n jong speler wat al die verwagtinge omhels.

“Hy mik hoog. As hy kans kry, gryp hy dit aan. Hy groei baie as ’n speler.”

Herschel geniet dit volgens sy Bok-kamermaat nie as hy foute maak nie.

“Dit is ’n teken dat hy wil groei. Hy wil elke dag beter raak. Hy wil elke dag weet waarop hy kan verbeter.”

Elton, wat al sedert 2014 klubrugby in Japan speel en vertroud is met die plaaslike speeltoestande, taal en kos, was in ’n vriendelike luim in Dinsdag se nuuskonferensie.

Hy het die media laat skaterlag met sy kwinkslae oor die 32-jarige Frans Steyn wat aan sy buitekant teen Namibië sal speel.

“Frans se rug raak seer en sy knie oud,” het Elton met 'n breë glimlag gesê.

“Dis baie gemaklik om langs Frans te speel. Hy plaas die groep op hul gemak.

“Frans maak altyd grappies, maar hy het daardie skakelaar om die werk gedoen te kry wanneer dit benodig word.

“Dis lekker om ’n veelsydige speler soos hy in die groep te hê. Hy mag dalk ’n ou toppie wees, maar hy het steeds ’n jeugdige kant aan hom. Hy verskaf baie energie aan die groep.”

Elton speel Saterdag in sy 36ste toets en Steyn in sy 62ste.

Elton het op die nuuskonferensie bevestig dat hy en die Namibiese skrumskakel Eugene Jantjies nie familie is nie. Eugene speel in sy vierde Wêreldbeker-toernooi.

“Hy ken al die truuks in die boek. Hy gaan ons uitdaag.

“Dis ’n Afrika-derby. Namibië het spelers wat al Superrugby en Curriebeker-rugby gespeel het. Hulle wil dalk iets bewys. Hulle sal wil sien of hulle ook op dié vlak kan speel.

“Dit gaan opwindend wees. Ons sal Saterdag fisiek en sielkundig vir die toets moet opdaag.”