Die eerste plek in Groep B van die Wêreldbeker-toernooi is op die spel wanneer die Springbokke en All Blacks Saterdag in Jokohama se International-stadion teen mekaar speel.

Wen of verloor, albei spanne behoort tot die kwarteindronde van die toernooi deur te dring.

Hier is vyf van die grootste besprekingspunte voor dié watertand-WB-stryd:

Faf de Klerk speel ’n belangrike rol in die Bokke se verdedigingstelsel vanweë sy vermoë om goed op die veld te kan kommunikeer. Foto: Getty Images

1. Opskietverdediging-wurggreep

Die Bokke het in hul laaste drie toetse teen die All Blacks goeie vordering met hul opskiet-verdedigingstelsel gemaak. Hulle het die Kiwi’s in ’n stewige wurggreep beet.

Nadat Nieu-Seeland nog in 2018 ses drieë in sy nederlaag van 34-36 teen die Bokke in Wellington gedruk het, het dit tot vier in sy wentoets van 32-30 in 2018 in Pretoria en slegs een in vroeër vanjaar se gelykoptoets van 16-16 in Wellington opgedroog.

Japan het wel onlangs ’n paar krake in die Bokke se verdedigingstelsel gewys, al kon hulle dit nie noodwendig afrond en uitbuit nie. Die All Blacks sou kennis daarvan geneem het.

Die Bokke is egter bewus van die haakplekke wat uitgestryk moet word en sou dié week op die oefenveld baie aandag daaraan gegee het.

Faf de Klerk is ’n sleutelspeler in die Bokke se opskiet-verdedigingstelsel.

Hy kruip onder die vel van die Kiwi’s in en het hul skakelpaar onder yslike druk in die spanne se laaste drie ontmoetings geplaas.

Uit die Bok-kamp word vertel dat De Klerk een van hul beste kommunikeerders op die verdediging is.

Dit sal interessant wees hóé en óf die All Blacks deur die Bokke se verdedingslinie in Jokohama kan breek.

Springbokke, All Blacks

2. Humiditeit is lastig

Humiditeit is nie iets wat jy op televisie sien nie, maar dis hoog in Jokohama. Dit sal in die groepfases ’n groter invloed op spel as in die uitkloprondes hê, wanneer die temperature na verwagting sal begin daal.

Die bal sal in Jokohama glibberig wees, die spelers se hande en arms nat en die speeloppervlak glad.

Iets wat ’n mens die afgelope tyd hier in Japan geleer het, is dat die weer baie vinnig verander, baie soos in Durban.

’n Bietjie reën word vir Saterdag voorspel en behoort nie die spel wesenlik te beïnvloed nie.

Die speeltoestande pas die Bokke se spelpatroon waarskynlik ’n tikkie beter as die All Blacks s’n.

Skopwerk, uit die hand en na die pale, sal krities vir ’n moontlike sege wees.

Die Bokke hou kajuitraad by hul kapteinsoefening in Jokohama. Foto: Getty Images

3. Gevestigde Bok-span

Dis insiggewend dat die Suid-Afrikaanse media nie Sondag, Maandag of Dinsdag oor ’n moontlike Bok-span voor Woensdag se amptelike spanaankondiging bespiegel het nie.

Daar was nêrens hoofopskrifte oor moontlike verrassings of skuiwe in die Suid-Afrikaanse 23-tal nie.

Dís ’n teken van hoe ’n gevestigde span die Bokke vanjaar is. Dís ’n groot pluspunt.

Steve Hansen moes op sy beurt tydens sy spanaankondiging vrae van die Nieu-Seelandse media beantwoord oor of hy nie bekommerd is dat daar nie duidelikheid is oor wie verskeie van sy eerstekeuse-spelers is nie.

Die Nieu-Seelandse media het wyd bespiegel hoe sy span sal lyk.

Voor 2011 en 2015 se Wêreldbeker-toernooie was die All Blacks in ’n heel verskillende posisie. Hulle was toe ’n gevestigde span, met gevestigde kombinasies.

Tot voordat Hansen sy span Donderdag aangekondig het, was daar byvoorbeeld twyfel hoe sy lostrio gaan lyk. Sou hy Richie Mo’unga of Beauden Barrett op losskakel kies en wie hy as sy eerstekeuse-senterpaar beskou.

Die All Blacks het verskeie uitsonderlike spelers en is ’n span wat oorborrel van natuurlike talent, maar hulle is nie ’n gevestigde eenheid wat hul spankeuses betref nie.

Dít sal Hansen pla.

Die All Blacks se beginspan teen die Bokke is ook sedert die eindstryd van 2011 se WB-toernooi die jongste nog wat hul gemiddelde ouderdom per speler betref. Dit is 28 jaar en 72 dae.

4. Hansen-waagstuk

In sy hoop om goud in Japan te wen, was Hansen bereid om kanse met sy spankeuses teen die Bokke te waag.

Die grootste daarvan, veral met die speeltoestande in ag genome, is die insluiting van die jong vleuels Sevu Reece (22 jaar) en George Bridge (24).

Sáám het hulle nog net in agt toetse gespeel. Saterdag is ’n groot verhoog en ’n ware vuurdoop vir hulle.

Reece-hulle het wel teen die Wallabies en Tongo gewys hoe gevaarlik hulle in ruimte is.

Slaag die proefneming nie, sal die Kiwi’s hul afrigter afslag dat hy nie die ervare Ben Smith en Rieko Ioane as vleuelpaar gekies het nie.

Teenoor die Kiwi’s is die Bokke se Cheslin Kolbe en Makazole Mapimpi besig om in ’n goeie vleuelpaar te ontwikkel. Kolbe hou veral ’n groot bedreiging vir die All Blacks in.

Die oud-Bokvleuel Bryan Habana het Vrydag by die Springbokke se kapteinsoefening ingeloer. Foto: Getty Images

5. Coles, Marx die hoofkarakters

Die vonke kan op haker spat waar Malcolm Marx met Dane Coles te doen kry.

Sake kan so warm raak tussen hulle, dat dit vir die beste tweestryd in die toets kan sorg.

Coles is die Kiwi’s se vonkprop.

In Brodie Retallick se afwesigheid sal sy agttal in sy rigting kyk om dinge te laat gebeur.

Sy dissipline pla met tye, maar dit behoort nie te verhinder dat hy inklim nie.

Marx skuld die Bokke weer een van daardie groot vertonings wat die manne om die braaivleisvure laat gons.

Op sy beste is hy die wêreld se voorste haker.

As die Bokke in Japan enduit in die prentjie wil bly, moet ’n speler soos Marx die vuur in die agttal stook.

Spanne

Springbokke: Willie le Roux, Cheslin Kolbe, Lukhanyo Am, Damian de Allende, Makazole Mapimpi, Handré Pollard, Faf de Klerk, Duane Vermeulen, Pieter-Steph du Toit, Siya Kolisi (k), Franco Mostert, Eben Etzebeth, Frans Malherbe, Malcolm Marx, Steven Kitshoff.

PLAASVERVANGERS: Bongi Mbonambi, Tendai Mtawarira, Trevor Nyakane, RG Snyman, Francois Louw, Herschel Jantjies, Frans Steyn, Jesse Kriel.

All Blacks: Beauden Barrett, Sevu Reece, Anton Lienert-Brown, Ryan Crotty, George Bridge, Richie Mo’unga, Aaron Smith, Kieran Read (k), Sam Cane, Ardie Savea, Scott Barrett, Sam Whitelock, Nepu Laulala, Dane Coles, Joe Moody.

PLAASVERVANGERS: Codie Taylor, Ofa Tuungafasi, Angus Ta’avao, Patrick Tuipulotu, Shannon Frizell, TJ Perenara, Sonny Bill Williams, Ben Smith.

  • Skeidsregter: Jérôme Garcès (Frankryk).
  • Grensregters: Romain Poite (Frankryk) en Karl Dickson (Engeland).
  • TV-skeidsregter: Graham Hughes (Engeland).
  • Afskop: 11:45 (SA tyd, SS 1).