Die Springbokke en die All Blacks sal mekaar Saterdag in Japan ’n vyfde keer in ’n Wêreldbeker-toernooi takel en, te oordeel aan die laaste vier toetse tussen dié spanne, beloof dit om nog ’n riller te wees.

Daar was sedert Suid-Afrika se hertoelating in 1992 verskeie spannende en titaniese kragmetings tussen die ou aartsvyande, wat lank onthou sal word.

* Bo-aan die lys is steeds Francois Pienaar se brekers van 1995, wat daarin kon slaag om die fenomeen Jonah Lomu te stuit en die Webb Ellis-beker te danke aan ’n Joel Stransky-skepdoel omhoog te hou op Ellispark.

* Drie jaar later het Gary Teichmann se span self ’n indrukwekkende vertoning in Durban teen die Kiwi’s gelewer.

Die besoekers het die ontmoeting in die destydse Drienasies-reeks oorheers en was met sowat 20 minute se speeltyd oor met 23-5 voor.

Suid-Afrika het vonk gevat en Joost van der Westhuizen, Bobby Skinstad en James Dalton het gaan druk om ’n dramatiese sege van 24-23 te verseker.

* Suid-Afrika het op 12 Julie 2008 op Carisbrook in Dunedin teen die All Blacks aangetree met die wete dat hulle nog nooit in “The House of Pain” aan die wenkant was nie.

Dit het gelyk asof die Bokke weer droëbek sou wees toe hul kaptein, Victor Matfield, in die 73ste minuut – met die tuisspan 28-23 voor – ’n geelkaart gekry het vir ’n hoogvat.

Ricky Januarie, die Springbok-skrumskakel, het egter ’n minuut later naby die middellyn om ’n losgemaal gebreek, ’n perfekte skoppie oor Leon MacDonald se kop ingekry en sierlik oor die doellyn geduik.

Die Bokke het die toets, met 14 spelers op die veld, met 30-28 gewen.

Frans Steyn, wat Saterdag een van die plaasvervangers is, het ook daardie dag op die bank gesit en het Januarie se skitterende solodrie verdoel.

* Die spanne pak mekaar op 21 Augustus 2010 voor meer as 94 000 toeskouers in die FNB-stadion in Johannesburg.

Dit is ’n groot dag vir Suid-Afrikaanse rugby met die Bok-kaptein, John Smit, wat in sy 100ste toets speel.

Die Bokke het die vorige seisoen die All Blacks drie keer geklop en die reeks teen die Britse en Ierse Leeus gewen.

Vir die grootste deel van die toets het dit gelyk asof dié mylpaal goeie herinneringe vir Smit sou inhou.

Richie McCaw, die All Black-kaptein druk egter in die 77ste minuut die gelykmakende drie, waarna die einste Smit twee minute later ’n duikslag verbrou op Ma’a Nonu, wat Israel Dagg wegstuur vir die wendrie. Die Kiwi’s seëvier 29-22.

* Toe die Springbokke in 2014 in die Rugbykampioenskap op Ellispark teen die All Blacks te staan kom, het Jean de Villiers se span vyf opeenvolgende toetse teen McCaw-hulle verloor.

Die Bokke speel uitstekende rugby en die 20-jarige Handré Pollard, wat in slegs sy sesde toets speel, druk twee drieë.

Met twee minute speeltyd oor, is Nieu-Seeland egter met 25-24 voor en die skeidsregter, Wayne Barnes, sien op die grootskerm dat die All Black-plaasvervanger Liam Messam ’n gevaarlike duikslag op Schalk Burger uitgevoer het.

Messam word gestraf en Pat Lambie word gevra om van sowat 55 meter aan te lê pale toe en hy maak geen fout nie.

* Die All Blacks het verlede seisoen in die Rugbykampioenskap in Pretoria aangekom om die skoknederlaag teen die Bokke in Wellington ’n paar weke vantevore te wreek.

Vir die grootste deel van die toets is die tuisspan in beheer, takties skerp en plaas weer groot druk op die Kiwi’s met sy opskietverdediging.

Halfpad deur die tweede helfte loop die Springbokke nog met 30-13 voor, maar Scott Barrett en Ardie Savea gaan druk om ’n sege met 32-30 te verseël.