Dinamiet kom mos in klein pakkies, het Cheslin Kolbe met ’n breë glimlag die groot groep internasionale rugbyskrywers herinner wat die Springbokke se nuuskonferensie Woensdag in Tokio bygewoon het.

Die 25-jarige Kolbe, wat net 1,70 m lank is en 74 kilogram weeg, is gevra of hy dink die klein spelers soos hyself, Kenki Fukuoka en Kotaro Matsushima (Japan se twee haastige vleuels) is “groot in Japan”, waar die Wêreldbeker-toernooi plaasvind.

“Ons het almal iets besonders wat ons tot ons spanne kan bydra,” het Kolbe gesê.

“Albei Japannese vleuels speel fenomenale rugby en dit is wat ons vir ons nasionale spanne moet doen.

“Vir my gaan dit daaroor om soveel moontlik momentum vir ons voorspelers te gee om op die voorvoet te kom.”

Kotaro Matsushima ken die pad doellyn toe. Hy het in vanjaar se Wêreldbeker-toernooi reeds vyf drieë ingeryg. Foto: Getty Images

Japan se vleuels, Fukuoka (27 jaar, 1,75 m en 83 kg) en die oud-Haai Matsushima (26 jaar, 1,78 m en 87 kg), is drieëvrate.

Matsushima, wat in 2013 vir die Haaie in die Vodacombeker-reeks gespeel en in dieselfde jaar genooi is om saam met die Junior Bokke te oefen, is tans saam met Wallis se Josh Adams die voorste driedrukker in die toernooi. Elkeen het reeds vyf drieë ingeryg.

Fukuoka het vier behaal, terwyl Makazole Mapimpi, Cobus Reinach en Bongi Mbonambi met drie drieë elk die Suid-Afrikaners se voorste driedrukkers in die toernooi is.

Fukuoka en Kolbe ken mekaar se spel. Hulle het onder meer in 2016 se Olimpiese Spele sewesrugby teen mekaar gespeel.

“Hy is ’n baie goeie speler. Hy het baie vaart en plofkrag. Dit gaan ’n opwindende uitdaging wees.”

Mapimpi (29 jaar, 1,87 m en 90 kg) sal Kolbe se vleuelmaat in Sondag se kwarteindstryd in Tokio wees.

Kolbe het gesê sy enkelbesering is iets van die verlede. Hy geniet dit om weer saam met sy spanmaats te oefen nadat hy lank ná die Italiaanse toets uitgesit het.

“Ek is vol vertroue en gereed. Die Japannese speel opwindende rugby. Hulle gee die bal baie lug en wil jou verdedigende strukture uitrek.

Ons sou nie sê die wete dat ons in 2015 teen Japan verloor het spook by ons nie, maar ons weet dat dit gebeur het.

“Dit is ’n styl wat ek ook graag wil speel. Maar ons het ons eie strukture en plan wat ons wil implementeer. Veral die naweek om hulle opsies te verminder om ons in die een of ander struktuur in te dwing.”

Kolbe het ook aan rugbyskrywers van onder meer Japan, Engeland, Suid-Afrika en Nieu-Seeland wat die nuuskonferensie bygewoon het, verduidelik dat rugby baie sedert 2015, toe die gasheerland die Bokke in Brighton geskok het, verander het.

“Spanne is tans baie meer tegnies as in die vorige Wêreldbeker en speel nie meer dieselfde styl nie.

“Ons sou nie sê die wete dat ons in 2015 teen Japan verloor het spook by ons nie, maar ons weet dat dit gebeur het. Maar dit is vier jaar later en ’n nuwe geleentheid vir ons.”

* Die statistieke van die spelers is deur die Wêreldbeker se media-webtuiste verskaf.