Die Springbokke het een plek teruggesak op Wêreldrugby se nuutste ranglys na hul nederlaag van 13-23 teen die All Blacks by die Wêreldbeker-toernooi in Jokohama, Japan.

Suid-Afrika was in die vierde plek op die ranglys toe hulle by die skouspel opdaag en is nou in die vyfde plek agter Wallis. Hulle het vanaf 87.34 tot 85.75 punte op die ranglys teruggesak.

Wallis speel Maandag teen Georgië in hul eerste wedstryd by die toernooi, en tensy daar ’n opskudding is, behoort hulle voor die Bokke te bly.

Nieu-Seeland, wat die WB-toernooi in die tweede plek op die ranglys begin het, is terug in die eerste posisie danksy hul sege oor die Bokke. Ierland, wat voor die naweek boaan die lys was, is nou tweede.

Die All Blacks se oorwinning het hulle van 89.40 na 90.98 punte laat spring. Ierland se oortuigende oorwinning van 27-3 oor Skotland het hul puntetotaal verhoog van 89.47 na 89.93.

Cheslin Kolbe van die Bokke en Sonny Bill Williams van die All Blacks omhels mekaar na afloop van Saterdag se wedstryd in Jokohama, Japan. Foto: Gallo Images

Elders in die toptien het Frankryk verby Skotland geskuif danksy ’n oorwinning van 23-21 oor Argentinië, terwyl Japan tot die negende posisie gevorder het, ten koste van Fidji.

Die gasheer het Rusland met 30-10 in die openingswedstryd geklop terwyl Fidji met 21-39 teen Australië vasgeval het.

* Die nuutste top-20 op die wêreldranglys:

1. Nieu-Seeland 90.98

2. Ierland 89.93

3. Engeland 88.13

4. Wallis 87.32

5. Suid-Afrika 85.75

6. Australië 84.07

7. Frankryk 81.04

8. Skotland 80.54

9. Japan 76.70

10. Fidji 76.42

11. Argentinië 74.97

12. Georgië 73.29

13. VSA 72.18

14. Italië 72.04

15. Tonga 71.04

16. Samoa 69.08

17. Spanje 68.15

18. Roemenië 66.69

19. Uruguay 65.18

20. Rusland 64.81

Ander Afrikalande:

23. Namibië 61.01

32. Kenia 52.55

34. Zimbabwe 50.69.

– Sport24