Die Springbokke het vyf drieë meer as enige ander span in die groepfase van die Wêreldbeker-toernooi gedruk.

Hul 27 drieë was dalk nie in alle gevalle so aanskoulik soos die 22 wat die All Blacks teen dieselfde teenstanders in Groep B kon behaal nie, maar Rassie Erasmus, Bok-afrigter, sal nietemin baie tevrede met die statistieke wees.

Die Wallabies met 20 drieë, Ierland 18 en Engeland 17 is die ander spanne wat hul aanvallende vermoë in die groepwedstryde bewys het.

Die Bokke se 185 punte is ook die meeste deur enige span ná die groepfase van rugby se skouspel.

Nieu-Seeland met 157 punte, Australië en Wallis op 136 en Ierland met 121 was saam met die Bokke die vyf spanne wat die meeste punte ná die eerste vier rondes van die toernooi kon opstapel.

’n Afdeling waarin die All Blacks beter as die Bokke gevaar het, was met hul aantal skoon breekslae.

Die Kiwi’s se 71 is die meeste, gevolg deur die Bokke se 63, Fidji se 55, Skotland op 51 en Wallis se 49.

Nieu-Seeland vaar ook beter as die Bokke in die lynstane, hoewel Lood de Jager-hulle nog nie ’n enkele bal op hul eie ingooie in Japan verloor het nie.

Argentinië het die meeste lynstaanballe, tien, by teenstanders afgeneem. Die All Blacks se agt is die tweede beste in die afdeling, gevolg deur die Bokke en Wallabies op sewe elk.

Nog ’n verblydende statistiek vir Erasmus voor Sondag se Wêreldbeker-kwarteindstryd teen Japan in Tokio is die Bokke se dissipline.

Hulle, Engeland, Frankryk en die gasheerland self is die vier spanne in die kwarteindstryd wat nog nie met enige kaarte gestraf is nie.

Nieu-Seeland het sover twee geelkaarte afgestaan, die Wallabies drie, Wallis twee en Ierland een.

Ierland is die enigste uit die kwarteindstryd-spanne wat in die groepfase met ’n rooikaart gestraf is.

’n Statistiek wat in besonder van belang voor Sondag se kwarteindstryd tussen die Bokke en Japan is, is die hoeveelheid duikslae wat albei die spanne in die groepfase uitgevoer het. Dít sal ’n impak op hul lywe hê.

Japan se 585 duikslae is die derde meeste in die toernooi. Net Uruguay met 664 en Amerika met 597 het meer uitgevoer.

Die Bokke se 365 duikslae is die 15de meeste.

Frankryk (16de plek, 354), Australië (17de, 349), Nieu-Seeland (19de, 336) en Engeland (20ste, 297) is die spanne wat sover volgens Wêreldrugby se toepassing die minste geduik het.