Die Springbok-kamp het dit aan die vooraand van Sondag se Wêreldbeker-halfeindstryd teen Wallis in Jokohama duidelik gemaak dat hy geen probleem met die Fransman Jérôme Garcès se vermoë as skeidsregter het nie.

“Hy is tans een van die beste skeidsregters,” het Mzwandile Stick, hulpafrigter van die Bokke, gesê toe hy gepols is oor dié skeidsregter, wat sinoniem met Bok-teleurstellings geword het.

Ons respekteer hom as skeidsregter, en sal ons bes doen om in sy goeie boekies te bly en hom kans te gee om sy werk te doen.
Mzwandile Stick

“Ons respekteer hom as skeidsregter, en sal ons bes doen om in sy goeie boekies te bly en hom kans te gee om sy werk te doen.”

Volgens Stick het Wêreldrugby hoë standaarde met die aanstelling van sy blasers.

“Die twee voorste skeidsregters is in die halfeindstryde betrokke. Ons glo hulle is die beste kandidate.

Tendai Mtawarira sal Sondag, nes in 2011 en 2015 die geval was, die Springbokke se nr. 1-trui in ’n Wêreldbeker-kragmeting met Wallis dra.Foto: Gallo Images

“Dissipline is belangrik vir ons. Ons het net een geelkaart in die toernooi afgestaan. Dit was Beast Mtawarira s’n teen Japan. Beast is nie ’n aggressiewe mens nie, hy het net ’n groot duikslag probeer inkry.”

Mtawarira is terloops een van agt Bokke wat in die beginspan was toe Suid-Afrika ’n sege van 23-19 oor Wallis in die kwarteindronde in 2015 se Wêreldbeker-toernooi behaal het.

Die ander was Frans Malherbe, Eben Etzebeth, Lood de Jager, Duane Vermeulen, Handré Pollard, Damian de Allende en Willie Le Roux.

Francois Louw het ook in daardie toets begin, maar sit Sondag op die bank vir die Bokke.

Pieter-Steph du Toit was ’n plaasvervanger in 2015 se kwarteindstryd.

Slegs vier Walliesers wat die 2015-kwarteind begin het, is Sondag weer in die Rooi Drake se opdrafspan (George North, Dan Biggar, Gareth Davies en Alun Wyn Jones).

Mtawarira is voorts die enigste lid van die Bokke se beginspan wat in 2011 se Wêreldbeker in ’n groepwedstryd teen Wallis betrokke was.

Frans Steyn, wat Sondag op die bank sit, was die Bokke se heelagter in daardie wedstryd.

Die All Blacks het 19 uit hul laaste 20 toetse onder Owens as blaser gewen.

Wallis se Nigel Owens is die skeidsregter in Saterdag se ander halfeindstryd tussen die All Blacks en Engeland, wat ook in Jokohama plaasvind.

Die All Blacks het 19 uit hul laaste 20 toetse onder Owens as blaser gewen.

Die Bokke kon op hul beurt net een uit hul laaste tien toetse onder Garcès wen.