“Ek weet baie mense verwag van ons om meer hardlooprugby teen spanne soos Italië en Namibië te speel, maar die ding is ons probeer seker maak dat ons hou by die prosesse en die wyse waarop ons wil speel.”

Dít was Mzwandile Stick se boodskap aan ondersteuners voordat die Springbokke Dinsdag in ’n Wêreldbeker-groepwedstryd teen Kanada in Kobe speel.

“Die groter prentjie vir ons is om seker te maak dat ons, wanneer ons in die uitspeelwedstryde is, goed voorbereid is op die wyse waarop ons wil speel,” het die Bok-hulpafrigter gesê.

“Dit is goed om teen ’n span soos Kanada te speel, want hulle rig ’n ander uitdaging. Dit is nie iets wat ons spelers al voorheen gesien het nie.

Dit is goed om teen ’n span soos Kanada te speel, want hulle rig ’n ander uitdaging. Dit is nie iets wat ons spelers al voorheen gesien het nie.
Mzwandile Stick

“Dit help ons ook om vir enige span voor te berei as ons wel die uitspeelwedstryde sou haal.”

Kanada is volgens hul afrigter, Kingsley Jones, opgewonde oor die kans om teen Suid-Afrika te speel.

“Ek is beïndruk deur die Kanadese ouens se ingesteldheid en houding teenoor dinge,” het Jones gesê.

“Ek bereken die atmosfeer in die span deur die geraas wat die spelers tydens ontbyt en in die kleedkamer maak. Ek het vanoggend in ’n partytjie in die kleedkamer ingestap, met musiek wat gespeel en spelers wat geglimlag het.

“Dit was vir my ’n reuse-hupstoot vir die selfvertroue.”

Jones verwag dat die Bokke se agttal sal inklim.

“Hulle is baie goed afgerig. Ek dink Rassie Erasmus verrig ongelooflike werk. Ons ken Suid-Afrikaanse rugby, of dit nou ’n Super-span of nasionale span is, ons weet wat om Dinsdag te verwag.

“Ons speel Dinsdag teen spelers wat hulself dalk nie as die beste vyftiental beskou nie, maar ons weet hulle is goeie spelers. Dis ’n sterk Suid-Afrikaanse groep.

Kanada moes teen die All Blacks gevaarmanne soos Beauden Barrett probeer hokslaan, maar verwag ’n ander tipe uitdaging teen die Bokke.Foto: Getty Images

“Ons is opgewonde oor die uitdaging, al mag dit ’n verskillende een as dié teen die All Blacks wees.”

Kanada het vanjaar nie ’n goeie reord nie.

Hy het sover nege uit tien toetse in 2019 verloor, wat nederlae van 7-48 teen Italië en 0-63 teen die All Blacks hier in Japan insluit.

Sy enigste oorwinning vanjaar was oor Chili.

Hy kon in sy laaste nege Wêreldbeker-wedstryde nie ’n oorwinning behaal nie. Sy laaste Wêreldbeker-sege was in 2011 toe hy Tonga met 25-20 geklop het.

Hoogtepunte van Kanada/Nieu-Seeland: