Vir sowat 80 minute gaan die kleure van een van Suid-Afrika se kragtigste samebindende simbole, die Springbok-trui, Saterdag vir Suid-Afrikaners belangriker as velkleur wees wanneer die Bokke en Engeland in die Wêreldbeker (WB)-eindstryd in Jokohama speel.

Almal wat leef en beef se bloed sal Groen-en-goud in Suid-Afrika wees.

“As dit by die Bokke kom, dra ons almal dieselfde trui,” sê Bongi Mbonambi, haker van Suid-Afrika.

“Almal dra die Groen-en-goud en ons moet een nasie verteenwoordig.”

Die Springbok-kamp besef hoe broodnodig Suid-Afrika goeie nuus met al sy probleme het. Die Bokke het dié week verskeie kere beklemtoon dat hulle bewus is wat 1995 se ikoniese oorwinning met Francois Pienaar as kaptein en die teenwoordigheid van wyle pres. Nelson Mandela op Ellispark vir die land beteken het.

Ook hoe die golf van hoop in 2007 oor die land ná die verowering van die titel gespoel het nadat John Smit en Thabo Mbeki die Wêreldbeker in Parys omhoog gehou het.

Pres. Cyril Ramaphosa het ook in Japan aangekom en sou die Bokke Saterdag wen, sal ’n kiekie van hom en Siya Kolisi as die Suid-Afrikaners se eerste swart kaptein as een van die belangrikste oomblikke vir die land én rugby beskou word.

Kolisi speel in sy 50ste toets en omhels die groot geleentheid.

Wyle pres. Nelson Mandela oorhandig die Webb Ellis-trofee in 1995 aan Francois Pienaar in een van die ikoniese oomblikke van WB-rugby. Gaan pres. Cyril Ramaphosa en Siya Kolisi ook Saterdag só ’n oomblik hê? Foto: Getty Images

“ ’n Oorwinning sal ongelooflik baie vir die land en die span beteken,” sê die Bok-kaptein.

“Ons het almal verskillende agtergronde in die span met een gemeenskaplike doel. Ons wil die land wys as ons by een plan hou, dat ons ’n doelwit kan bereik. Dit moet Suid-Afrika hoop gee.”

Die Springbok-kamp het nog nie die soort ondersteuning geniet waarmee hulle die afgelope week oorval is nie.

“Ek het nog nie sulke ondersteuning beleef sedert ek Bok-kaptein is nie. Ons weet hoeveel rugby vir ons land beteken,” sê hy.

“Ons het spelers van verskillende rasse in die span en wil wys dat dít ’n sterkpunt is. Ons wil aan Suid-Afrika wys wat kan gebeur as ons saamstaan. Ek het die afgelope tyd net weer eens besef hoe belangrik 31 spelers vir die span is en nie net 23 nie.”

Kolisi-hulle het die afgelope sowat twee jaar baie onder Rassie Erasmus as afrigter gegroei.

Selfdissipline is een van die Springbokke se sterkpunte onder Kolisi en Erasmus. Sedert sy aanstelling het Erasmus dadelik enige straf of boete in die span gestaak as spelers byvoorbeeld laat vir oefeninge of videosessies opdaag.

Erasmus glo sy spelers is volwasse genoeg om die belangrikheid van stiptelikheid te besef. Vir hom gaan dit daaroor dat as ’n speler laat opdaag, hy nie die Springbok-embleem as ernstig genoeg beskou nie. Met salarisse van tot R8 miljoen per jaar wat van die Bokke verdien, sal ’n boete van R1 000 ook nie juis ’n verskil aan ’n speler se sak maak nie.

Sover was Erasmus se besluit baie suksesvol wat dit betref. Dié selfdissipline sal Saterdag van groot belang in die eindstryd wees waarop die Franse blaser Jérôme Garcès ’n groot invloed sal hê.

Garcès is sy aanstelling onder meer te danke aan ’n kuitbesering wat Wallis se Nigel Owens in die halfeindstryd tussen Engeland en die All Blacks opgedoen het. Hy maak soos alle skeidsregters blapse, solank hy dit in die eindstryd net na albei kante toe maak en konsekwent is met sy toepassing van die reëls.

Jake White, onder wie se afrigting die Springbokke die Wêreldbeker in 2007 verower het, dink Kolisi-hulle kan Engeland klop.

“Ek voel net ’n klomp dinge tel in Suid-Afrika se guns. Hulle het ’n ongelooflike bank en as die uitslag tot die einde in die weegskaal is, kan die Bokke baie sterk in die laaste oomblikke wees,” het White aan skysports.com gesê.

“My hart sê vir my die Bokke het ’n oorwinning nodiger. Siya is ’n ongelooflike inspirasie vir almal. Dit is ’n wonderlike storie en as Suid-Afrikaners het ons dit nodig. Ek het al baie kere gesê dat ons om watter redes ook al nie gebruik gemaak het van wat in 1995 of 2007 gebeur het nie.”

Hy sê hierdie Wêreldbeker is anders.

“Hierdie hele Wêreldbeker het amper soos ’n roman geword – dis die eerste keer in Asië gehou en Japan het tot die uitkloprondes deurgedring. Die mense in hierdie land het die WB-toernooi omarm.”