“Suid-Afrika het dit werklik nodig gehad,” laat weet my oom Saterdagmiddag uit Potchefstroom nadat die Springbokke die Wêreldbeker gewen het, en ons begin een van daardie intense WhatsApp-gesprekke wat oor rugby gaan en eintlik nie oor rugby gaan nie, wat Dana Snyman so weergaloos waar beskryf het in Saterdag se uitgawe van ons geliefde koerant, Die Burger.

Want die vet weet, vir diegene van ons wat in ons elke dag se wil en werk en wandel die reënboognasie uitleef omdat dit deel is van ons en omdat ons dus nie anders kan of wil nie, was Saterdag nogal ’n welkome praktiese voorbeeld ter onderskraging van positiwiteit in ’n tyd dat verdelers, klakouse, bitterbekke en benepe rasdenkers aan alle uithoeke van die politieke spektrum die selfvertroue kry om al raseriger te raak en die nasionale diskoers met daardie geraasbesoedeling van hulle te kontamineer. Dit reën mos pap vir hulle as dit sleg gaan met ons land.

Hierdie Springbokspan van ons kaptein, Siya Kolisi van die WP, stel vir ons ’n wonderlike en haalbare voorbeeld van hoe om ons ideale van doodgewone ordentlikheid, wat in die regse dampkring mos so graag afwysend en geringskattend afgemaak word as “politieke korrektheid”, prakties uit te leef, veral wanneer die omstandighede moeilik is.

Intussen fokus die Kolisiman met sy onverstoorbare geaardheid, sy Godgegewe rugbytalent, sy wit vrou en sy bruin kindertjies rustig voort.

Kom ons begin by ons kaptein, Siya Kolisi. Daar is ’n sterk en voortdurende narratief aan die regterkant van die Afrikaanse sosialemediawêreld dat “Siya nie eintlik die kaptein is nie” – Duane Vermeulen lei eintlik die span en spesifiek die voorspelers, so beweer hulle met hul selfversekerde stelligheid – en dat die arme Rassie maar vir Siya moes vorentoe stoot, want jy weet mos . . . (“jy weet mos” is in hierdie geval kodetaal vir “die swart mense is mos onbekwaam en kry alles op ’n skinkbord terwyl alles in sy maai gaan, want hulle kan mos niks bestuur nie”).

Intussen fokus die Kolisiman met sy onverstoorbare geaardheid, sy Godgegewe rugbytalent, sy wit vrou en sy bruin kindertjies rustig voort om vir almal van ons die Wêreldbeker te wen. Hy raak nie selfgeldend en emosioneel openbaar betrokke by elke bekgeveg nie en verdedig hom nie luidkeels teen die belediging en ongemak wat die “jy weet mos”-brigade vir hom en Duane Vermeulen aandoen nie, want hy is beter as dit – hulle is dit nie werd om op te reageer nie. Dalk is dit iets vir elkeen van ons om in oorverhitte omstandighede as rigsnoer te gebruik.

Kolisi se woorde ná die oorwinning het ’n nuwe standaard vir ná-wedstrydonderhoude gestel in ’n veld waar die kompetisie weliswaar grootliks beperk is tot “I just want to thank the boys and coach Gerrie and we will take every match as it comes”. Siya was vir my inspirerend en het my trots gemaak. Hy was in ’n ander klas as daardie Engelse kaptein wat nie ’n samehangende sin kon konstrueer nie en blykbaar nie oor die opvoeding beskik om sy opponent behoorlik geluk te wens nie. Hy was vir ons almal ’n voorbeeld van ordentlike, beskaafde opgevoedheid.

Etzebeth se reaksie tot dusver was om hom nie te laat uitlok in ’n moddergeveg nie.

Dieselfde geld ons slot Eben Etzebeth, oor wie ernstige ras­bewerings tot op hede skandalig swak hanteer is deur die Menseregtekommissie. Etzebeth se reaksie tot dusver was om hom nie te laat uitlok in ’n moddergeveg nie, maar om ’n nogal werklik inspirerende verklaring oor sy persoonlike oortuigings rakende versoening en verhoudings met mense van verskillende rasse uit te spreek.

Soos Kolisi het hy hom nie laat uitlok deur omstandighede nie en voortgegaan om vir ons almal die Wêreldbeker te wen. En ek het self gesien hoe hy swart mense soen tydens die feesvierings direk na die oorwinning. Die beweerde gebeure op Langebaan moet behoorlik ondersoek word en nie een van ons sonder binnekennis moet vooraf kant kies nie, maar Etzebeth se optrede in Japan strek hom sekerlik tot eer.

Ons Springbokspan was ook ’n inspirerende voorbeeld van eenheid in diversiteit. Eerstens en mees ooglopend is uiteraard die rassesamestelling van ons span. In dié verband hoop ’n mens diegene wat steeds sukkel om te aanvaar dat rugby ewe veel in die bloed van swart as bruin en wit Suid-Afrikaners kan wees, het kennis geneem van die instinktiewe rugby-briljantheid van die tussenspel tussen Lukhanyo Am en Makazole Mapimpi. Daardie soort spel, soos ook Cheslin Kolbe se drie, kan nie afgerig word nie.

En kom ons dink ’n bietjie na oor ons stut Beast Mtawarira, wat oorspronklik van Zimbabwe kom en nou hier woon. Hoeveel mense maak hulle heimlik skuldig aan xenofobie, maar ondersteun Beast? Hoe is dit verantwoordbaar? Kan ons nie maar ewe ondersteunend wees aan alle eerbare Zimbabwiërs in Suid-Afrika nie?

Wat voorts inspirerend was, was die eensgesinde vreugde van ons land se mense. Dit was heerlik om die kleurblinde vreugde te sien van Kaapstad tot Pretoria, van Sandton tot in Zwide, waar ons kaptein vandaan kom. Die feesvieringe in Zwide het my aan die hart gegryp – die bankvas ondersteuning van die mense ja, maar ook hul mensonterende armoede en die karige versletenheid van baie van hulle se kleredrag. Wie in hierdie land hardvogtig wil beweer dat ras nie grootliks ’n belangrike aanduider van ekonomiese benadeling is nie, moes blind wees vir die beeldsending uit Zwide.

YOKOHAMA, JAPAN - NOVEMBER 02: South Africa captai
Bok-plesier! Foto: Getty Images

Teen Saterdagaand het alle saakmakende politieke groeperings met die hartseer uitsondering van die EFF verenig in hul steun aan ons span. En dit nogal in die week dat ’n EFF-LP die eerste keer ’n vollengte inset in Afrikaans gemaak het in die parlement – so ’n heerlike stap vorentoe vir Afrikaans en vir die EFF. Daar was ook sommige swart kommentators in die ANC-dampkring wat spesifiek slegs gefokus het op die bydraes van die span se swart lede, en blykbaar blind was vir die lotsbepalende bydrae van byvoorbeeld ons losskakel, Handre Pollard, se temperament en dodelik akkurate skoppe. Ja-nee, in hierdie land is die strewe na vrede ’n eindelose stryd, en die vordering met versoening is dikwels twee tree vorentoe en een tree agteruit.

Maar ons vorder, en die maklikste meetsnoer is ’n vergelyking met ons eerste Wêreldbeker-triomf in 1995. Daardie dag het ’n magiese betekenis in ons land se versoeningsgeskiedenis, en as jy teruggaan na die feite van die dag was dit omdat ’n swart president die Springbokke openlik ondersteun het (en nie die All Blacks nie), omdat swart mense die Bokke se oorwinning gevier het (indertyd ondenkbaar) en omdat die dagblad Sowetan geskryf het “Viva Amabokoboko”. Saterdag het dit op groter skaal gebeur as in 1995, maar dit is so noodwendig dat ons eintlik nie meer daaroor nadink nie. En ons het nou ’n Springbokspan wat sy eindstryd op elke vlak meer oortuigend gewen het as in 1995 of in 2007. Daardie Springbokspan van 1995 was terloops spierwit, met die uitsondering van ons vleuel Chester Williams. En kyk hoe lyk ons nou!

Ons oorwinning Saterdag gaan nie Suid-Afrika se uitdagings laat verdwyn nie. Maar alle eer aan ons Springbokspan, wat vir ons gewys het hoe ons behoort te leef, en dat die oplossing by elkeen van ons se eie persoonlike gedrag begin. Dit is elkeen van ons se keuse of ons ook in ons persoonlike gedrag ons Springbokspan se voorbeeld waardig gaan wees.

Joubert is ’n politieke joernalis en skrywer wie se nuutste boek, Gaan Suid-Afrika oukei wees? pas verskyn het.