Schalk Brits is besig om die harte van aanhangers wêreldwyd te verower danksy sy eerbiedige gedrag en wen-glimlag, wat die gees van die spel verpersoonlik wat hy duidelik geniet.

Twee video-uittreksels van hom gedurende die Springbokke se Wêreldbeker-oorwinning van 66-7 Dinsdag oor Kanada in Kobe, maak die 38-jarige haker tans een van die gewildste spelers in rugby se skouspel.

In die een video buig Brits vooroor toe hy net voor ’n lynstaan die bal van ’n Japanse baljoggie ontvang. In Japan word dit as ’n teken van respek beskou.

Sy opregte interaksie was tot groot vermaak van die baljoggie self, die skare, die Australiese grensregter Angus Gardner en Rassie Erasmus, die Bok-afrigter.

In nog ’n video skaterlag hy ná die eindfluitjie toe hy en die Kanadese haker Andrew Quattrin truie ruil. Aangesien Brits 100 kilogram weeg en sy teenstander die skaal op 114 kilogram laat kreun, het Quattrin die Bok-haker en een van sy eie spanmaats, die plaasvervanger-haker, Benoit Piffero, se hulp benodig om die Bok-trui oor sy skouers en middellyf te kry.

Die video’s trek wêreldwyd onder die media en ondersteuners aandag.

Selfs Siya Kolisi het Brits, wat een van die Bokke se sterre teen Kanada was, agterna vir sy bydrae tot die span geprys.

“Hy is regtig ongelooflik, veral vir ons jonger ouens,” het Kolisi gesê.

Schalk Brits verower Japannese harte met sy ooglopende genot van die spel en omhelsing van die Japanse kultuur. Foto: Getty Images

“Hy hef ons op. Hy het baie wysheid, wat baie belangrik is. Hy is altyd bemoedigend. Hy plaas die span meer as alles eerste, en wanneer hy die geleentheid kry, geniet hy homself regtig.”

Die toets teen Kanada was waarskynlik die laaste keer dat Brits die Bok-trui gedra het.

Hy sal waarskynlik net in die uitkloprondes speel as Bongi Mbonambi of Malcolm Marx beseer raak.

Brits wil ook vorentoe meer tyd saam met sy gesin deurbring, wat beteken dat hy sy tokse sal wegpak.

Brits se vrou, Colinda, en sy drie seuns, Christian (7), Hunter (5) en Luke (2), het byvoorbeeld vroeër vanjaar tydens die Superrugby-reeks in die Kaap gebly, terwyl hy in ’n hotel in Pretoria tuisgegaan het. Brits het toe vir die Bulle gespeel.

Die ligte dyspierbesering wat hy Dinsdagaand teen Kanada opgedoen het, behoort volgens die Bok-kamp wel nie sy toernooi kort te knip nie.