Die Springbokke was met tye verbeeldingloos en het nie ’n plan B teen die All Blacks in hul openingswedstryd in die Wêreldbeker-toernooi gehad nie.

Dít is die mening wat Brendan Venter, die eertydse Springbok-senter en oud-afrigter, in sy gereelde rubriek vir die Nieu-Seelandse webwerf stuff.co.nz gehuldig het.

Met verwysing na die All Blacks se Wêreldbeker-oorwinning oor die Bokke in Jokohama die afgelope naweek, skryf hy dat Steve Hansen (afrigter) se span goed daarin geslaag het om die Springbokke se opskietverdediging te neutraliseer deur onder meer gebruik te maak van die skop-aangee. Hulle het ook die opskiet-verdediging omseil deur naby mekaar te hardloop en nie te wyd te speel nie.

LONDON, ENGLAND - FEBRUARY 26: Brendan Venter, th
Brendan Venter / Foto: Getty Imagesges

Volgens hom was dit ook nie baie slim van die Bok-kamp om vooraf soveel druk op die skeidsregter, Jérôme Garcès, te plaas nie.

Rassie Erasmus (hoofafrigter van die Bokke), sowel as Mzwandile Stick (Bok-hulpafrigter), het in die aanloop tot die toets Saterdag gevra dat Garcès albei spanne gelyke behandeling gee.

Nadat die Kiwi’s met 23-13 gewen het, het dit op sosiale media gegons oor al die voorvalle van ontoelaatbare spel deur die All Blacks wat hy oor die hoof gesien het.

Venter glo die wêreldkampioen was takties ook baie skerper as die Springbokke.

“Hulle het die stryd in die lug baie gemaklik gewen. Hul lugskoppe, om die bal te jaag en ook hul wedywering om die bal terug te kry, was baie beter as die Springbokke s’n,” reken Venter.

Volgens hom het die Springbokke nie regtig ’n plan B gehad nie.

“As jy so kwaai staatmaak op jou dryfspel vanuit lynstane en jou skopspel, en dit werk nie, dan is jy in die moeilikheid,” sê Venter in sy rubriek.

Tog glo hy die Springbokke het goed teruggeveg nadat hulle rustyd met 3-17 agter was.

Toe die Bokke in die tweede helfte momentum gekry het met hul baldraers, het die spel verander. Hulle kan trots wees op hul vertoning (in dié helfte) en hy glo steeds hulle is goed genoeg om die Wêreldbeker te wen.

Venter reken Erasmus se sterk punt is sy helderheid wat sy plan betref en sy spankeuses en hy sal nie sommer te veel gaan staan en verander nie.

Hy bevraagteken egter die wysheid om die klem vooraf op die skeidsregter te plaas, want in sy ervaring werk dit nooit regtig nie en irriteer dit eerder net die blaser.

Venter sê nietemin Garcès se vertoning was “skokkend” en is een van die hedendaagse tipe skeidsregters “wat alles laat gaan”. Volgens hom probeer hulle te hard om te verseker dat ’n wedstryd ’n skouspel is.

“Voor die wedstryd het ek geweet hy sou sukkel na albei kante toe weens sy onvermoë om sterk beslissings te maak. Vir ons as afrigters is die saak met skeidsregters nie die foute wat hulle maak nie, maar dít wat hulle oor die hoof sien.

“As hulle nie die onkantreël toepas nie, dan polisieer hulle ook nie spelers wat die duikslag uitvoer en nie wegrol nie en ook onwettige spel in die lynstane.”

Oor die beeldmateriaal wat op sosiale media na vore gekom het van die All Black-kaptein, Kieran Read, wat Pieter-Steph du Toit in ’n lynstaan sonder die bal hoogvat, het Venter gesê “dit is nie in die gees van die spel nie”.

Hy meen as skeidsregters voortaan die All Blacks begin vasvat vir dié tipe voorvalle, sal dit wees weens wedstryde soos dié in Jokohama.