Die kapteinskap was nooit ter sprake in ’n telefoonoproep wat Schalk Brits sowat 18 maande gelede van Rassie Erasmus ontvang het om sy uittrede uit rugby te heroorweeg nie.

“Rassie se woorde aan my was om by die groep vir Junie (2018) se toetse teen Engeland aan te sluit en te sien hoe dit gaan,” sê Brits.

“Hy het gesê ons kan ná die Engelse toetse besluit of ek as deel van die groep aanbly.

“Dit was vir my lekker (tydens die Engelse toetse) om te sien hoe ek by die jonger spelers inskakel. Dit het vir my nooit oor die kapteinskap gegaan nie. Ek wou uiteraard speel.

“Ek was vanweë Rassie se visie vir die groep en strategiese beplanning opgewonde om deel daarvan te wees. Dis vir my lekker om te sien hoe die groep in 18 maande gegroei het. Dis ’n opwaartse kurwe.

“Ek dink steeds ons kan wondere in die Wêreldbeker met dié groep verrig. Dis ’n groep wat leer en vinnig leer.”

Dit het vir my nooit oor die kapteinskap gegaan nie. Ek wou uiteraard speel.
Schalk Brits

Brits sal die Bokke Saterdag in Toyota, wanneer hulle Namibië die stryd aansê, ’n tweede keer vanjaar aanvoer. Dié keer in die ongewone posisie as agtsteman.

Brits was ook ná die Rugbykampioenskap die kaptein in ’n WB-opwarmingstoets teen Argentinië in Pretoria. Hy was toe die haker.

Die Bok-kaptein sê sy span se voorbereiding vir die Namibiese toets het goed verloop en hulle onderskat glad nie hul buurmanne nie.

“Ons fokus altyd op ons eie prosesse, ongeag van die uitslae. Ons maak altyd seker dat ons fisieke en geestelike ingesteldheid reg is.

“Ek was deel van die groep wat teen Japan (in die vorige Wêreldbeker) verloor het. Ek ken daardie gevoel wanneer jy moet wen, maar jy verloor. Ons het (die week) net so hard soos in vorige wedstryde gewerk.”

Die 38-jarige Brits speel Saterdag in sy 14de toets en eerste een teen Namibië.

Kwagga Smith en Bongi Mbonambi Vrydag by die Bokke se kapteinsoefening in Toyota. Schalk Brits, wat die Bokke aanvoer, sê hy sien daarna uit om in dieselfde lostrio as Smith te speel.Foto: Gallo Images

Hy sien uit na die uitdaging wat op hom as agtsteman wag.

“Ek is in algemene spel meestal op die vleuel. Ek het vir die Stormers redelik op agtsteman gespeel voordat ek na Saracens is. Ek het altyd op haker begin en in die tweede helfte na agtsteman geskuif wanneer spel lostorring.

“Ek het lanklaas agtsteman gespeel, maar sien uit na die uitdaging. Ek sien baie uit om saam met Kwagga Smith en Francois Louw te speel.”

Brits het geen berou oor sy besluit om weer rugby te speel nie.

“Dis sover ’n uitstekende besluit. Dis ’n ongelooflike voorreg om deel van die groep te wees.”