’n Oud-speler moes tussenbeide tree in ’n hittige bekgeveg tussen die Wallabies se afrigter by die Wêreldbeker-rugbytoernooi, Michael Cheika, en een van die ringkoppe van Rugby Australië (RA).

The Sydney Morning Herald berig dat Cheika en Raelene Castle, uitvoerende hoof van RA, in ’n woeste woordestryd by ’n funksie by die Australiese ambassade in Tokio, Japan betrokke was.

Morgan Turinui, ’n voormalige Australiese toetsspeler, het tussenbeide getree en het dié twee gevra om die argument, wat ten aanskoue van die gaste plaasgevind het, elders te voer.

Die argument het, na wat verneem word, gegaan oor Castle se aandrang dat spelers die funksie moet bywoon – al was dit in die week voor die Wallabies se belangrike wedstryd teen Wallis.

Raelene Castle, uitvoerende hoof van Rugby Australië. Foto: Getty Images

Cheika was nie hiervoor te vinde nie, met Castle wat toe gesê het dat vier spelers dan die funksie moet bywoon – maar die breier was ook nie hiervoor te vinde nie.

Castle het toe volgens The New Zealand Heral oor Cheika se kop gegaan en met RA se direkteur van rugby, Scott Johnson, gereël dat Jordan Petaia, Folau Fainga’a en Christian Leali’ifano die funksie sal bywoon.

Toe Cheika later besluit om wel spelers toe te laat om die te gaan, was hy bitter ongelukkig om te verneem dat daar agter sy rug gekonkel is.

Die funksie het voortgegaan soos beplan, maar emosies het oorgekook toe Castle Cheika later die aand bedank het vir sy en die spelers se teenwoordigheid, berig The Sydney Morning Herald.

Cheika het haar glo die kop gewas, met Turinui wat die twee gevra het om nie so in die openbaar op te tree nie.

Die 52-jarige Cheika het Sondag bedank nadat die Wallabies Saterdag in die kwarteind met 40-16 teen Engeland verloor het. – Sportredaksie