Michael Cheika, afrigter van Australië, het geen moordkuil van sy hart gemaak nadat Engeland sy Wallabies in die kwarteindronde van die Wêreldbeker-toernooi geklop het nie.

Die Engelse was Saterdag met 40-16 baas in Oita, Japan.

“Wel, ek het gedink ons het eintlik heel goed gespeel. Hulle het baie goed verdedig – so dit is maar hoe dit is, ’n mens moet dit maar aanvaar. Ek is so f****** teleurgesteld,” het Cheika net ná die wedstryd gesê.

Hy het vroeër aangedui dat hy die leisels sal neerlê as die Aussies nie die Wêreldbeker wen nie, maar was omgekrap toe ’n joernalis hom later in die mediakonferensie daaroor pols.

“Mater, ek gaan eerlik wees, dit is ’n wrede, wrede wêreld wanneer jy daardie soort vraag vra twee minute nadat jy uit die Wêreldbeker geskakel is,” het Cheika die joernalis geantwoord.

“En as jy dit in jou kan vind om ’n bietjie deernis te hê vir mense wat pyn ervaar, vra dan meer relevante vrae.

“Ek het hier opgedaag met net een gedagte en dit is hoe om te wen. Dit het pas verdwyn. Nie 15 of 20 minute gelede nie.

“Wanneer die tyd reg is, sal ek iets sê. Is dit reg so?”

Michael Cheika, afrigter van die Wallabies. Foto: Getty Images

Cheika het gesê hy verkies om op sy voorwaardes te verloor.

“Ons kon beslis beter gespeel het – jy kan altyd. Maar luister hier, dit is die manier waarop ons rugby speel. Ek gaan nie ’n wedstryd speel waar ons skop en verdedig nie. Jy kan my naïef noem, maar dit is nie wat ek gaan doen nie.

“Ek sal eerder op ons manier wen – of glad nie. Dit is die manier waarop Aussies wil speel,” het hy gesê.

Cheika het ook lof gehad vir Engeland wat volgens hom “baie goed” gespeel het.

“Hulle het verdien om die kragmeting te wen, en sal ’n handvol verder in die toernooi wees.” – Sportredaksie, Reuters