Die feit dat Engeland meer uitgerus sal wees wanneer hy en Australië mekaar Saterdag in die kwarteindronde van die Wêreldbeker-rugbytoernooi pak, skeel die Wallabies se afrigter, Michael Cheika, min.

Engeland se laaste kragmeting was op 5 Oktober teen Argentinië, want sy laaste groepwedstryd, wat die afgelope naweek teen Frankryk sou plaasvind, is weens die supertifoon Hagibis afgelas.

Die Aussies daarenteen het Vrydag hul laaste groepwedstryd teen Georgië gespeel.

“Dit maak nie regtig saak nie,” het Cheika Maandag by die span se hotel aan verslaggewers gesê.

“Niks is ooit perfek nie. Ons het hindernisse gehad om te oorkom, hetsy dit op of weg van die veld was – dit is deel daarvan,” het Cheika gesê.

Eddie Jones (links), afrigter van Engeland, en sy eweknie van Australië, Michael Cheika, in 2018 op Twickenham. Foto: Getty Images

Australië is beslis nie die gunsteling vir die kragmeting met Engeland nie – al het hy in sy naelskraapse nederlaag teen Wallis gewys waartoe hy in staat is.

Die Engelse was immers in die laaste ses keer dat die twee spanne kragte gemeet het, aan die wenkant. Die Wallabies se laaste oorwinning oor die Rose was toevallig by die vorige WB-toernooi in 2015.

Eddie Jones, afrigter van die Engelse, is ’n Aussie van geboorte, met Cheika wat boonop nog nooit sy landgenoot in ’n toets kon ore aansit nie.

Cheika moes ook die vernedering in 2016 sluk om die eerste afrigter van die Wallabies te word teen wie die Engelse in Australië skoonskip in ’n reeks kon maak.

Om terug te kyk gaan jou net ’n seer nek gee.
Michael Cheika

Maar Cheika, wat die afgelope week deur Swys de Bruin (voormalige afrigter van die Leeus) as ’n onortodokse breier beskryf is op ’n TV-program, sê dié klad agter sy naam is irrelevant.

“Dit is regtig irrelevant. Ek probeer nie om dit te vermy nie, maar hoekom teruggaan en praat oor daardie wedstryde (in 2016).

“Om terug te kyk gaan jou net ’n seer nek gee,” het Cheika gesê, wat nie veel oor sy verhouding met Jones wou uitwei nie.

Hy wou ook nie te veel sê oor die gevaar wat die Engelse inhou nie.

“(Ek het) baie respek (vir Engeland), maar ek is nie vreeslik daarop ingestel om teenstanders te ontleed nie. Ek sê altyd aan my (hulp-)afrigters om nie te veel na die teenstanders te kyk nie.”

Cheika, wat die Wallabies teen die verwagting in na die eindstryd van 2015 se skouspel gevoer het, het reeds aangedui dat hy van sy pos afstand sal doen as hy nie die Aussies na ’n derde titel kan neem nie.

Hy beskou afrigting as ’n passie eerder as ’n loopbaan en het skertsend gesê hy moet nog ’n regte werk kry as hy eendag groot is.

“Afrigting bestaan uit ’n klomp oomblikke langs die pad. Sommige is lekker, ander nie. Ek wil net die oomblik geniet, in die oomblik leef en kan nie omgee wat agterna gebeur nie,” het Cheika gesê. – Reuters, Sportredaksie