Cheslin Kolbe en Herschel Jantjies is gekies vir Sondag se Wêreldbeker-kwarteindstryd teen Japan in Tokio.

Rassie Erasmus sal sy 23-tal egter eers afteken as albei Dinsdag op die oefenveld wys dat hulle ten volle van hul beserings herstel het.

“Ons het die span reeds intern aangekondig en albei is gekies,” het Erasmus gesê.

“Ons glo albei sal reg wees en die oefening voltooi. Ek glo albei is so 99% gereed.”

Kolbe sukkel met ’n enkelbesering, wat hy op 4 Oktober laat in die wedstryd teen Italië opgedoen het, en groot kommer het bestaan of hy betyds sal herstel.

Hy sal Dinsdag in Tokio die eerste keer sedert die toets teen Italië eers weer saam met sy spanmaats oefen.

Aangesien hy die speler met die grootste X-faktor in die Bok-span is, sal hy soveel moontlik kans gegun word om te herstel.

Jantjies het ’n ligte dyspierbesering teen Kanada opgedoen, wat verhinder het dat hy aan die Bokke se laaste twee oefensessies in Kobe kon deelneem.

Die Bokke was wel nooit bekommerd oor sy beskikbaarheid nie.

Herschel Jantjies sal in die Bokke se 23-tal teen Japan wees indien hy Dinsdag kan bewys dat hy nie meer las het van ’n ligte dyspierbesering nie. Foto: Gallo Images

Erasmus se aandag sal egter tydens Dinsdag se oefening in Tokio nie net op sy beseerdes se vordering gerig wees nie.

Die weer in Japan is vinnig besig om te verander, wat speeltoestande in die uitkloprondes kan verbeter.

Erasmus sal op die oefenveld eerstehands kan sien of dit die balhantering vergemaklik het.

“Ons het altyd geweet, en is deur baie gewaarsku, dat daar ’n dag in Oktober sal kom dat die weer skielik verander.

“Die humiditeit sal verminder en die bal sal nie meer so glibberig wees nie.

“Ons het nou daardie stadium bereik. Ons dra nou ons sweetpakke.”

Die temperature het veral skerp gedaal ná die tifoon Hagibis.

Dit is toestande wat Japan se spel volgens Erasmus Sondag sal bevoordeel. Hy meen terselfdertyd die Bokke sal nie sukkel om daarby aan te pas nie, omdat hulle baie in soortgelyke toestande in Suid-Afrika speel.

“Ons het al baie teen ’n span soos die All Blacks op Loftus Versfeld gespeel, wat dit geniet om die bal lug te gee.”

Erasmus sal sy 23-tal dié week eers Donderdag aankondig.