Cheslin Kolbe is fiks en slaggereed vir die Wêreldbekereindstryd.

“Ons is in die bevoorregte posisie dat al 31 spelers fiks is en vandag sal saamoefen,” sê Rassie Erasmus, afrigter van die Springbokke, by Dinsdag se nuuskonferensie in Tokyo Bay.

Kolbe het die halfeindstryd teen Wallis weens ’n enkelbesering misgeloop en kommer het bestaan of hy Saterdag in Jokohama teen Engeland sou speel.

In Kolbe se afwesigheid was S’bu Nkosi die regtervleuel teen die Rooi Drake.

Nkosi het hom goed van sy taak gekwyt, maar Kolbe pas net beter in die Bokke se wedstrydplan.

Hy het groter ervaring van die verdedigingstelsel en beskik oor 'n groter X-faktor as Nkosi.

Kolbe is ook ’n beter lugspeler soos hy in die Suid-Afrikaners se eerste groepwedstryd teen die All Blacks in Jokohama gewys het.

Erasmus het voor die halfeindstryd geskimp hy het Kolbe as ’n voorsorgmaatreël teen Wallis laat rus aangesien hy hom slaggereed vir die eindstryd wou hê.

Dit was interessant dat Kolbe net voor afskopstyd vir die halfeindstryd aan die Bokke se oefeninge deelgeneem het. Hy het sonder enige ongemak van sy besering voluit gehardloop.

“Ons gaan nie baie aan die span verander wat teen Wallis gespeel het nie,” sê Erasmus.

“Ons gaan dit baie dieselfde hou as teen Wallis, aangesien hulle (die Bokke) die spelers in vorm is en die beste span vir ons taktiek is.

“Cheslin kan die enigste verandering aan die 23-tal wees. Ons gaan nie baie verander voor die toets nie aangesien ons net 180 minute se oefentyd voor die eindstryd het.”

Die Bokke oefen Dinsdag op die Japanse klubspan die Shining Arcs se veld en het Woensdag hul ander oefening op dieselfde veld.