’n Afbeelding van die gesig van Chester Williams sal op die Springbokke se truie wees wanneer hulle Nieu-Seeland Saterdag in hul eerste wedstryd in vanjaar se Wêreldbeker-toernooi in Japan pak.

Williams (49), een van die Bokke se sterre toe hulle die toernooi die eerste keer in 1995 gewen het, is twee weke gelede aan ’n hartaanval dood.

Die afbeelding sal verskyn op die nommers agterop die spelers se truie, saam met dié van die huidige lede van die span, asook van ondersteuners wat selfies ingestuur het.

Williams het in 1993 sy buiging vir die Bokke gemaak en voortgegaan om sy land in 27 toetse te verteenwoordig. Hy het ook vir die Blitsbokke gespeel en die span afgerig en was deel van die Goue Leeus-span, wat in 1999 die Curriebeker gewen het.

Rassie Erasmus, afrigter van die Springbokke, sê in ’n verklaring Williams het nie daarvan gehou om die middelpunt van belangstelling te wees nie.

“Hy het nooit gespog oor sy rol of iets in ruil daarvoor verwag nie, maar ek dink hy sou daarvan gehou het om weer deel te wees van ’n toets tussen die Springbokke en die All Blacks.” – Sportredaksie