Die vrou van die Ierland se Suid-Afrikaans gebore losvoorspeler CJ Stander beskryf die Ierse media as “oneerbiedig” nadat die span deur die All Blacks uit die Wêreldbeker (WB)-toernooi geboender is.

Jean-Marié Stander beskuldig die Ierse media op Twitter dat hulle “die span skop terwyl hy op die grond lê”.

Die Iere is Saterdag in die kwarteindronde in Tokio met 46-14 deur Nieu-Seeland van die veld gespeel, terwyl Joe Schmidt se span ook in die groepfase deur die gasheer, Japan, geklop is.

“Ná vier jaar se harde werk en opofferings deur die spelers en afrigters vind ek die reaksie van ‘ons eie’ baie oneerbiedig,” sê sy.

“Al die ongelooflike prestasies die afgelope drie jaar word onmiddellik deur ’n swak WB-toernooi oorskadu. Sportmanne onderpresteer nie met opset nie, hulle is menslik en daarmee gaan mislukking gepaard. Ek veronderstel die eise wat gestel word om deurlopend op so hoë vlak te vertoon is te veel vir sommige om te verstaan.”

Jean-Marié is die suster van die Suid-Afrikaanse Olimpiese swemlegende Ryk Neethling.

– Sportredaksie