Hulle is dalk medaljeloos weg uit Japan, maar die Walliese rugbyspan het iets ewe waardevol by die mense van dié nasie gekry: dank daarvoor dat hulle “ ’n nasie deur rugby geïnspireer het”.

Alun Wyn Jones, Wallis se kaptein, vra vir Ben O’Keeffe waarom hy nie ’n strafskop teen Samu Kerevi toegeken het nie.Foto: Getty Images

Die burgers van die stad Kitakioesjoe, waar die Walliesers vir ’n ruk tuisgegaan het tydens die Wêreldbeker-toernooi, het volgens Wales Online die afgelope Donderdag ’n volbladadvertensie in die koerant Western Mail laat publiseer waarin hulle sê: “Dankie dat julle ons stad as jul tuiste weg van die huis gekies het. Dit was ’n voorreg om jul pragtige volkslied te leer en te sing. Julle sal altyd hier welkom wees.”

Kitakioesjoe se mense het Wallis uit die staanspoor in hul stad verwelkom, met 15 000 wat opgedaag het vir hul eerste oefensessie. Verteenwoordigers van die Walliese Rugbyunie het ook oor die afgelope twee jaar telkens daar besoek afgelê om te help bou aan ’n WB-erfenis vir dié stad.

Tydens die toernooi het spelers ook skole in die stad besoek. Wallis het teen Nieu-Seeland in die uitspeelwedstryd om die derde plek verloor. – Sportredaksie