Japan gaan nie ’n maklike span wees om in die kwarteindronde van die Wêreldbeker-toernooi te klop nie, maar die Springbokke behoort nét te sterk vir die gasheer te wees, meen Matt Dawson, ’n voormalige skrumskakel van Engeland.

Dawson, ’n lid van Engeland se seëvierende Wêreldbeker-span in 2003, het in ’n onderhoud aan bbc.com gesê hy kan nie sien hoe Japan twee taai toetse agtereenvolgens sal wen nie.

Japan het Skotland Sondag 28-21 verslaan in ’n epiese kragmeting in Groep A van die toernooi.

“Hulle sal Suid-Afrika beslis beproef, want hulle het ’n unieke styl en nie eens die All Blacks kan altyd teen so ’n geweldige pas speel nie.

“Hul stuur die bal baie vinnig punte toe, is onvoorspelbaar en hul hantering uitstekend. Alles blitsig en met groot akkuraatheid.”

Dawson sê die Bokke is uitgerus en het baie selfvertroue en momentum.

“Japan sal sukkel teen die sterk pak van Suid-Afrika.

“In die ander wedstryde (in die kwarteindronde) kan ek nie dink hoe Nieu-Seeland teen Ierland sal verloor nie, maar dit is moeilik om voorspellings te maak oor Frankryk teen Wallis en Engeland teen Australië.”

Die Wallabies, sê Dawson, was nog nie op hulle beste in die toernooi nie en Engeland het twee weke laas gespeel, nadat hulle groepwedstryd teen Frankryk weens die tifoon gekanselleer is.

“Engeland kan die wedstryd koud ingaan en dit is baie gevra teen die Wallabies.

“Ek dink nie dit is so eenvoudig as om te sê dit sal Wallis teen Suid-Afrika en Engeland teen Nieu-Seeland in die halfeindstryd wees nie.

“Daar wag iewers ’n opskudding.”

Dawson sê Japan verdien dit “op en van die veld af” om onder die voorste agt spanne te pronk.

“Vir hulle om die kwarteindstryd te haal is ongelooflik, die groot suksesstorie van die toernooi sover.”

Hy is ook van mening dat Wêreldrugby die regte besluite geneem het, gegewe die onsekerheid rondom die tifoon Hagibis.

“Dit is reg dat daar gewag is vir die tifoon om verby te beweeg voordat daar ’n besluit geneem is oor die wedstryd (Japan teen Skotland).

“Die toernooi is sover uit die boonste rakke, een van die mees opwindendste toernooie nog. Indien nie die beste nie.”

Dawson sê hy sal nie verras wees as die Japanse spelers Sondag deur “rou emosie” aangevuur was teen die Skotte nie.

“Daar was dalk van die spelers wat seergemaak sou wees deur van die berigte in die media verlede week.

“Die fokus het ewe skielik verskuif van hierdie fantastiese toernooi na een wat onthou kan vir die wedstryde wat gekanselleer is.

“Dit is onregverdig en ongevoelig teenoor die organiseerders en Japan.”

– Sportredaksie