Ná al die jare is hy nog ’n bol senuwees wanneer sy seun Damian de Allende vir ’n rugbywedstryd op die veld draf. Dit is soms só erg dat hy wonder of daar fout is met hom, sê dié Springbok-rugbyspeler se pa, Tony de Allende.

Hy het met Netwerk24 gepraat kort voor sy vertrek na Tokio in Japan, waar Suid-Afrika Saterdag in die eindstryd van die Rugbywêreldbekertoernooi teen Engeland te staan kom en gesê dit is vir hom baie erg om na die wedstryde te kyk.

“Dit maak my só op my senuwees om te kyk hoe hy speel. My regterbeen skud so erg dat ek al begin dink het daar is iets verkeerd met my.”

Die 27-jarige De Allende is ná die afgelope paar wedstryde uitgewys as ’n sleutelspeler wat uitstekend presteer. Hy het ook in die kwarteindstryd teen Wallis verlede naweek die Springbokke se enigste drie gedruk.

Sy trotse pa kán eenvoudig net nie die eindstryd teen Engeland mis nie. “’n Mens weet nooit of hy weer gaan kan speel nie. Ek móés net gaan,” sê Tony. Sy vrou en Damian se stiefma, Karen, moet ongelukkig weens werkverpligtinge by die huis bly.

Hy sê Damian geniet elke oomblik van sy tyd in Japan en dit is veral die gasvryheid van die mense daar wat hy waardeer.

Damian en sy broer, Eden. Foto: Facebook/Beverly De Allende

“Ons praat gereeld. Toe hy daar aankom, het hy gesê dit voel asof hy op Nuweland aankom. Die mense is baie verwelkomend en daar heers ’n feestelike atmosfeer.”

Tony sal na verwagting Donderdagaand in Japan land en sal sy seun Vrydag te siene kry.

Tony sê hy sukkel soms om die wedstryde te kyk omdat hy baie bekommerd is dat Damian, ’n baie fisieke speler, ’n ernstige besering sal opdoen.

“Ek kan nie help om heeltyd net vir hom te kyk nie. Ek kyk nie eens die hele wedstryd nie,” sê Tony en lag.

Vroeër in sy loopbaan het Damian gesukkel met beserings aan albei sy enkels, asook ’n skouerbesering.

“Ek hou egter baie daarvan om hom te sien speel en probeer om saam te reis om wedstryde te gaan kyk. Ek het altyd verkies om die wedstryde alleen te kyk by die huis waar niemand se kommentaar my kan pla nie,” sê Tony.

“Maar Damian het gesê ek moet probeer ontspan. Toe gaan kyk ek maar saam met ’n klomp ander mense die kwart- en halfeindstryde in ’n sportklub.

“Toe Damian daai drie druk in die halfeindstryd, het dit gevoel of ek ’n aar gaan bars! Almal was ongelooflik bly en dit was net high-5’s waar jy kyk.”

Tony verwag dat die Springbokke goed sal vaar teen Engeland, en voorspel dat die span met 12 punte gaan wen.

“Dit gaan beslis ook nie ’n mooi wedstryd wees nie, maar ons gaan wen!” sê hy.

Ook Damian se ouer broer, Eden, is een van sy groot ondersteuners. Tony sê dié twee is onafskeidbaar, hoewel Eden baie lief is daarvoor om Damian se foute ná ’n wedstryd uit te wys.

Dié twee het in hul hoërskooljare in dieselfde span vir die Hoërskool Milnerton gespeel, en Tony sê hulle albei is talentvol op sportgebied.

“Snaaks genoeg het mense altyd gesê Eden gaan goed vaar. Wel, die liefde het oor sy pad gekom en rugby is opsygeskuif.”

Damian is aanvanklik oorgesien en is nie opgeneem in ’n Cravenweek-span nie. Dié teleurstelling het hom ontmoedig, maar kort daarna is hy vir die WP se o.19-span gekies.

“Ek het altyd iets spesiaal in hom gesien,” sê Tony.

“Ek onthou hoe hy in sy matriekjaar vir my gesê het: ‘Pa, ek wil rugby speel.’ Ek het toe maar toegegee en hy het ’n gap-jaar geneem om te speel.”

Vandaar het hy net óp en óp beweeg, tot hy vir die Springbokspan gekies is.

Tony sê hy het nooit ’n dag se rugby in sy lewe gespeel nie. “Ek rig sokker af, maar ek sal nie weet wát om te doen in ’n rugbywedstryd nie.”