Die Springbokke se teenstander in die Wêreldbeker-kwarteindronde sal volgens Rassie Erasmus, Suid-Afrika se hoofafrigter, help bepaal wie uit Cobus Reinach, Faf de Klerk en Herschel Jantjies sy twee skrumskakels in die 23-tal sal wees.

“Ons is bevoorreg om drie skrumskakels soos Cobus, Faf en Herschel te hê. Ons het die werklading onder hulle baie goed (in die groepwedstryde) versprei,” het Erasmus Dinsdag ná die Bokke se oorwinning van 66-7 oor Kanada gesê.

“Ons sal vandag se wedstryd teen Kanada ontleed en na die individuele dinge kyk. Ons sal ook moet kyk teen wie ons speel, dit sal ’n invloed op die keuses hê.”

Japan, Skotland en Ierland, die drie spanne teen wie Suid-Afrika in die kwarteindstryd te staan kan kom, het volgens die Bok-afrigter almal verskillende speelstyle.

Reinach het nietemin sy afrigter se aandag in die oorwinning oor Kanada in Kobe getrek.

“Almal weet van Cobus se X-faktor. Ons ook ken sy pa (wyle Jaco Reinach) goed.

Almal weet as Cobus, met sy uitsonderlike vaart, ’n halwe gaping sien, gaan hy daardeur probeer glip.
Rassie Erasmus

“Almal weet as Cobus, met sy uitsonderlike vaart, ’n halwe gaping sien, gaan hy daardeur probeer glip.”

Reinach het sy aanspraak op insluiting in die sogenaamde A-span versterk deur ’n Wêreldbeker-rekord teen Kanada te laat spat.

Hy het sy drie drieë in die eerste 21 minute behaal. Dis vinniger as die voormalige Wallaby Chris Latham se rekord vir drie drieë in 25 minute, wat hy in 2003 se Wêreldbeker teen Namibië in Adelaide gedruk het.

RG Snyman wen lynstaanbesit in die Bokke se stryd teen Kanada. Rassie Erasmus het sy vertoning as “fenomenaal” beskryf.Foto: AP
Damian Willemse probeer ’n Kanadese verdediger uit die pad stoot in Dinsdag se WB-kragmeting in Kobe.Foto: Getty Images
Warrick Gelant wriemel oor vir ’n drie in die hoekie in die Bokke se WB-oorwinning oor Kanada.Foto: Reuters

Erasmus het in die nuuskonferensie ná die toets ook oor RG Snyman, Frans Steyn en Siya Kolisi se spel gepraat.

Die Bok-afrigter het voordat hy oor Snyman se vertoning uitgebrei het, die media daarin herinner dat perspektief oor Dinsdagaand se vertoning behou moet word vanweë die gehalte van die teenstander.

Hy het gesê spelers sal minder ruimte en tyd in die uitkloprondes hê en onder groter druk wees.

“Ek wil egter niks van RG se vertoning wegvat nie, hy was fenomenaal. Hy het altyd gesoek na ’n geleentheid om die bal in kontak uit te gee. Hy het ook soms net hard gehardloop.

“Hy het ’n goeie balans in sy spel gehad. Hy was fantasties. Dis die rede hoekom hy altyd in ons 23-tal (van die sogenaamde A-span) is.

“Hy het alles goed gedoen. Ek is bly hy kon vir 80 minute speel.”

Die Bok-afrigter was ook tevrede dat Steyn vir ’n volle 80 minute op die veld was.

“Ek is baie tevrede hoe hy vanaand die tempo en intensiteit van toetsrugby hanteer het.

Ek is baie tevrede hoe hy vanaand die tempo en intensiteit van toetsrugby hanteer het.
Rassie Erasmus

“Ons het altyd geweet Frans het die talent, mededingendheid en begeerte om te speel, maar dit soms moeilik as jy uit die Franse Top14-liga kom.

“Nog ’n positiewe faktor vanaand was om te sien dat Siya die gehalte rugby speel wat ek weet hy kan. Ons is in ’n goeie posisie wat spelers betref.”

Erasmus gaan sy span twee dae afgee, voordat hulle hul voorbereidings vir die kwarteindstryd hervat.

Die Bokke bly tot Sondag in Kobe aan, voordat hulle Sondag na Tokio reis.

Cobus Reinach se drie drieë: 

RG Snyman se Speler v Wedstryd-vertoning: 

Hoogtepunte van die die Bok-toets: