Springbok-gees het Donderdag ook in Johannesburg hoog geloop.

Groen Springbok-hempies en Suid-Afrikaanse vlaggies was oral in die strate te sien waar mense gewag het dat die Bokke se bus uit Pretoria opdaag.

Lees ook: Jakarandastad: 'Bokke, ons is lief vir julle!'

Die atmosfeer was jolig en oral waar jy kyk het mense ’n selfoon of tablet reg gehou om die geskiedkundige gebeure af te neem.

Die toer in Johannesburg het by MTN se hoofkantoor in Fairland begin van waar die bus na die middestad is.

Mense het oral op die roete agter die bus aangehardloop.

Veral Siya Kolisi se naam is uitgeroep. Die bus het by Helpmekaar-kollege stilgehou.

“Dis die beste dag nóg in my lewe,” het Maruscha de Wet, ’n gr. 11-leerling wat van haar helde kon sien, gesê.

Foto:

Die bus is daarna oor die Nelson Mandelabrug.

Hier het Amaraah Garda gestaan met haar plakkaat wat gelees het: “I am Muslim but I like to see how (Handré) Pollard converts!”

Op Twitter het sy dit betreur dat die arme Pollard die oorwinningstoer moes misloop omdat sy wangbeen in die eindstryd gebreek het – “waar hy 22 van die 32 punte aangeteken het”.

Die bus is daarna via die Chris Hani Baragwanath-hospitaal na Soweto waar dit by die Orlando-stadion stilgehou het.

Hier het Herman Mashaba, burgemeester van Johannesburg, gesê die Wêreldbekeroorwinning het weer nuwe hoop vir die land gebring. “Ons hoop jul oorwinning sal toekomstige generasies inspireer,” het Mashaba gesê.

Kolisi het ook hier aan aanhangers handtekeninge uitgedeel.

Tyd vir iets om te eet. Die Bokke word by MTN se hoofkantoor deur die skare dopgehou.

Hy het die land bedank vir die volgehoue ondersteuning.

“Ons het vir die land gespeel. Dis goed om die klein kinders te sien wat vandag ook ons oorwinning vier,” het Kolisi gesê.

Die bus is daarna deur die wêreldberoemde Vilakazi­straat. Hier het ’n groep Zoeloe-krygers in tradisionele drag krygspassies uitgevoer om hul Bok-helde te verwelkom.

Die bus is daarna terug na die Orlando-stadion, waar die toer geëindig het.

Die Bokke maak Vrydag ’n draai in Durban.

Duane Vermeulen en Eben Etzebeth groet die skare wat hulle gister kom ondersteun het.
Foto:
’n Bok-ondersteuner neem ’n selfie.
Foto:
Die Bokke se bus beur oor die Nelson Mandelabrug in Johannesburg waar talle ondersteuners gewag het om hul helde endie Wêreldbeker te sien. Foto’s: FELIX DLANGAMANDLA