Daar was ’n tyd toe die buksie Shane Williams, voormalige rugbyspeler van Wallis en die Britse en Ierse Leeus, as die laaste van ’n spreekwoordelike spesie beskou is.

Met reg ook. Krag en grootte het die laaste paar jaar sinoniem met rugby geword. Wat beteken dat iemand soos die 42-jarige Williams, wat 1,70 m in sy sokkies staan, nie heeltemal in daardie boksie inpas nie.

Maar Williams het nooit dat sy grootte, of eerder tekort daaraan, hom op die internasionale verhoog pootjie nie, soos sy 60 drieë in 91 toetse (vier van dié toetse was vir die Leeus) ’n getuigskrif van is.

Nou is dié boorling van Swansea bly dat buksies soos Suid-Afrika se Cheslin Kolbe en Kotaro Matsushima van Japan opnuut die rugbywêreld daaraan herinner het dat spoed en ’n bedrieglike systap steeds effektief in die moderne spel kan wees.

Dit het gelyk asof dit die norm gaan word dat jy spelers op vleuel het wat die 100 m in onder 11 sekondes hardloop en 200 kg in die gimnasium voor die bors uitstoot.
Shane Williams

“Dit is ’n briesie vars lug. Dit het gelyk asof dit die norm gaan word dat jy spelers op vleuel het wat die 100 m in onder 11 sekondes hardloop en 200 kg in die gimnasium voor die bors uitstoot,” sê Williams.

“Maar die laaste twee of drie seisoene het ons spelers soos Cheslin en Matsushima gesien, wat verdedigers laat hard werk het.

“Dit is baie moeilik vir spelers soos Eben Etzebeth, wat 2,03 m lank is, om laag te buk en te probeer om die kleiner spelers om die middel te duik.

Shane Williams laat die Springbokke se Bjorn Basson na skaduwees gryp tydens ’n toets in 2010 in Cardiff. Foto: Getty Images

“Dit begin regtig deesdae die kleiner outjies te pas en is beslis ’n vars briesie dat spelers in die omgewing van 1,70 m, wat onder 80 kg weeg, van die sterspelers by die Wêreldbeker-toernooi is,” sê Williams.

Die 26-jarige Kobe, wat 1,72 m lank is, het Suid-Afrika se halfeindstryd teen Wallis met ’n besering misgeloop, maar is Saterdag weer op sy pos.

Williams sê hy is beïndruk deur Kolbe se spel, nie net sy spel met die bal in die hand nie.

“Hy is ’n openbaring vir Suid-Afrika en dit is ’n plesier om na hom te kyk. Nie net druk hy drieë nie, maar hy het wonderlike voete en is ’n vegter.

“Hy plaas sy liggaam op die spel, hy duik asof hy 1,95 m lank is en hy hardloop in baksteenmure vas asof hy 1,95 m lank is. Ons het dit gesien met kleiner spelers by die Wêreldbeker.

“As ’n afrigter jou aansê om iets te doen, dan doen jy dit – of dit seermaak of nie.”

Waar die Bokke vir Kolbe en Makazole Mapimpi op vleuel het, sal Engeland twee groot spelers, Jonny May en Anthony Watson, op die punte hê.

“Ek dink Watson, wat oor goeie voete beskik, was besig tot dusver, maar het waarskynlik nie soveel drieë gedruk soos wat hy verdien het nie. Tog het hy elke keer as hy die bal gehad het sy teenstander geklop.

Ons almal weet waartoe Mapimpi in staat is, hoewel hy vir die grootste gedeelte van die halfeindstryd (teen Wallis) skoppe gejaag het.
Shane Williams

“Ons almal weet waartoe Mapimpi in staat is, hoewel hy vir die grootste gedeelte van die halfeindstryd (teen Wallis) skoppe gejaag het. Jonny May is ’n ware afronder, wat oor ongelooflike vaart beskik.

“Die agterste driehoeke van albei spanne is giftig, maar wat in Engeland se guns tel, is dat hy probeer om die bal by sy vleuels te kry.

“Suid-Afrika aan die anderkant skop die bal en probeer om hul teenstander te dwing om foute te maak, voordat die bal na Mapimpi en Kolbe laat loop word,” sê Williams. – Reuters

Kolbe in aksie:

Williams op sy allerbeste: