Die Springbokke se opspraakwekkende nederlaag teen Japan in Brighton vier jaar gelede is nou al holrug gery, maar min mense weet dat Engeland 40 jaar gelede óók so ampertjies op sy baadjie gekry het teen die Brave Blossoms.

Bill Beaumont, deesdae voorsitter van Wêreldrugby, het in 1979 ’n Engelse XV op ’n toer na Japan gelei en het vandeesweek in die gasheerland vir vanjaar se Wêreldbeker-rugbytoernooi (WB) ’n reünie gehou met sy destydse Japannese eweknie, Shigetaka Mori. Laasgenoemde is die nuwe president van die Japanse Rugbyunie.

Terwyl die hoofkwartier van Japanse rugby in Tokio Dinsdag ’n miernes van bedrywighede was om die laaste reëlings voor Vrydag se openingseremonie en -wedstryd te tref, het Mori en Beaumont in ’n klein kamertjie deur ou swart-en-wit foto’s van daardie reeks in 1979 geblaai.

Bill Beaumont, gewese Engelse kaptein en deesdae voorsitter van Wêreldrugby, saam met Shigetaka Mori, gewese Japannese kaptein en deesdae president van Japan se rugbyunie, vandeesweek in Tokio. Foto: Reuters

“Ek was die kaptein en Bill was ook die kaptein en ons het rots, papier, skêr (rock, paper scissors) gebruik om te bepaal wie eerste afskop, pleks van om ’n muntstuk op te skiet,” onthou Mori.

“Die eerste toets was in Osaka en die tweede in Tokio.”

Engeland het die eerste kragmeting met 21-19 gewen danksy ’n verdoelde drie in die doodsnikke.

“Ek onthou nog toe ons goed op pad was om te verloor, dat ek op die veld gedink het wat die pers tuis gaan skryf,” sê Beaumont.

“Ek onthou ons het in die laaste minuut van die wedstryd gaan druk. Die drie het ons laat gelyk trek en toe het Dusty Hare, die heelagter, die doelskop oorgesit om ons te laat wen.”

Volgens Beaumont het sy span vooraf geen verwagtinge van Japan as ’n rugbyland gehad nie.

“Julle het ons verras,” het Beaumont aan Mori gesê.

“Ons het letterlik niks van Japan se spelers geweet nie. Ons het die Maandag geland, die Woensdag teen ’n span in Tokio gespeel en toe die toets die naweek.”

Die Engelse vleuel John Carleton bars deur ’n Japannese speler se verdediging in dié spanne se tweede toets in Tokio in 1979. Foto: Getty Images

Nadat die Engelse spelers van hul vlugflouheid herstel het, het hulle die tweede toets gemaklik met 38-18 gewen.

“Dit was ongelooflik om so goed teen ’n sterk rugbynasie te speel en uiteindelik met net twee punte te verloor,” sê Mori oor daai eerste toets.

“Ons is agterna genooi om op TV-programme en die oggendnuus te verskyn, want mense was baie geïnteresseerd.”

Albei dié ou teenstanders sal hoop dat Japan se klas van 2019 weer die land se verbeelding aangryp en die profiel van die sport verhoog.

Japan kom Vrydag in die openingswedstryd teen Rusland te staan.

– Reuters