In die Wallabies se hoek is daar “Pooper” en in die Engelse s’n die “Kamikaze Kids”.

Anders gestel: Australië se baljagterflanke David Pocock en Michael Hooper gaan Saterdag in ’n titaniese stryd teen Engeland se Tom Curry en Sam Underhill wees wanneer dié spanne in die Wêreldbeker-kwarteindstryd in Oita, Japan, kragte meet.

Wat interessant is, is dat die Rose die Wallabies nagedoen het met die keuse van twee oopkantflanke.

Terwyl dit nie ’n unieke verskynsel is om ’n spesialis-steelkantflank weg te laat nie, is dit nie op toetsvlak ’n gereelde verskynsel nie.

Eddie Jones, Engeland se afrigter, het dié taktiek vir die eerste keer in hul groepwedstryd teen Uruguay op die proef gestel.

Só lyk dit wanneer David Pocock vir Michael Hooper in ’n Superrugby-wedstryd vasvat.Foto: Getty Images

Sy flanke se liggaamsbou verskil aansienlik van dié van die Australiese duo en hulle het ook baie minder ervaring, maar al vier gaan ’n groot rol in die stryd by die afbreekpunte hê.

“Ons sien baie daarna uit. Jy wil jouself teen die beste spelers ter wêreld toets en hulle is twee spelers van wêreldgehalte,” het Underhill vandeesweek aan joernaliste gesê.

“Hulle was vir my en Tom rolmodelle toe ons jonger was, so dit voel onwerklik om teen hulle te speel.”

Hooper (27) speel in sy 99ste toets en die 31-jarige Pocock in sy 83ste. Curry (21) het al 16 keer vir Engeland opgedraf en die 23-jarige Underhill 12 keer.

“Hulle is tegnies albei baie goed by die afbreekpunte wanneer hulle oor die bal stelling inneem,” sê Underhill.

“Pocock is waarskynlik die beste ter wêreld in terme van hoe sterk hy is en met sy liggaamsposisie. Sy tydsberekening is boonop baie goed.”

Jones meen veranderinge in hoe skeidsregters blaas, is bevorderlik vir ’n groter stryd by die afbreekpunte en hy het dáárom besluit om twee baljagters te kies.

“Ek dink dit gaan ’n puik stryd wees. Pocock is die afgelope dekade seker die beste oopkantflank ter wêreld, maar ons jong manne verbeter met elke wedstryd,” sê Jones.

Michael Hooper en David Pocock werk nou saam as vennote in die Wallaby-trui. Foto: Getty Images

“Curry se springwerk in die lynstane het die afgelope agt weke baie verbeter en ek het Underhill lanklaas só veglustig gesien.”

Die twee Engelse is baie fisiek en baklei om elke sentimeter op die rugbyveld.

“Dis taai eselwerk. Jy moet daardie soort spel geniet en besef dat wat jy doen ’n bydrae tot die span lewer,” sê Underhill.

“Wanneer die ouens aan die buitekant ’n drie afrond, is dit gewoonlik danksy die harde werk van die voorspelers in die enjinkamer. Dis nie lekker om te kyk hoe die voorspelers woel nie, maar dis wat die spesiale oomblikke in wedstryde skep.”

* WB-rekord teen mekaar: Engeland en Australië het al ses keer (1987, 1991, 1995, 2003, 2007 en 2015) teen mekaar gespeel in WB-toernooie en was elkeen drie keer aan die wenkant.

* Laaste ontmoeting: Engeland het in November 2018 met 37-18 gewen.

* Verwagte weerstoestande: Gedeeltelik bewolk met ’n verwagte temperatuur van 24 °C.

Engeland: Elliot Daly, Anthony Watson, Henry Slade, Manu Tuilagi, Jonny May, Owen Farrell (k), Ben Youngs, Billy Vunipola, Sam Underhill, Tom Curry, Courtney Lawes, Maro Itoje, Kyle Sinckler, Jamie George, Mako Vunipola. PLAASVERVANGERS: Luke Cowan-Dickie, Joe Marler, Dan Cole, George Kruis, Lewis Ludlam, Willi Heinz, George Ford, Jamie Joseph.

Australië: Kurtley Beale, Reece Hodge, Jordan Petaia, Samu Kerevi, Marika Koroibete, Christian Lealiifano, Will Genia, Isi Naisarani, Michael Hooper (k), David Pocock, Rory Arnold, Izack Rodda, Allan Alaalatoa, Tolu Latu, Scott Sio. PLAASVERVANGERS: Jordan Uelese, James Slipper, Taniela Tupou, Adam Coleman, Lukhan Salakaia-Loto, Nic White, Matt To’omua, James O’Connor. – Reuters en Sportredaksie

Skeidsregter: Jérôme Garcès (Frankryk).

Assistent-skeidsregters: Romain Poite en Mathieu Raynal (albei Frankryk).

TV-skeidsregter: Ben Skeen (Nieu-Seeland).

Afskop: 09:15 (SS 1).

* Netwerk24 sal regstreeks oor die wedstryd verslag doen.

* Hoogtepunte van Engeland/Argentinië: 

* Hoogtepunte van Wallabies/Wallis: