Dis Sondag die res van die wêreld teen die Springbokke.

Hoe dan ook anders met Japan, wat danksy sy aanskoulike hardlooprugby en die wyse waarop hy gasheer vir vanjaar se Wêreldbeker (WB)-toernooi speel, harte wêreldwyd gewen en tans die planeet se gunstelingrugbyspan is.

Dit maak nie saak wie Sondag in Tokio sy teenstander in die kwarteindstryd sou wees nie, Japan sou altyd op sy eie fanatiese ondersteuners en ook op byna die res van die wêreld s’n kon staatmaak.

Suid-Afrika verwag derhalwe ’n hewige aanslag en berei hom volgens Mzwandile Stick vir die onvoorspelbare voor.

“Ons besef die gasheerland gaan met groot passie speel en sal goeie ondersteuning geniet,” sê Stick.

“Ons kon die gees wat in Jokohama se stadion in hul groepwedstryd teen Skotland geheers het, selfs op televisie ervaar. Hul ondersteuners is passievol en trots.”

Stick glo egter die Bokke geniet ook goeie ondersteuning, veral onder die Japannese.

“Iemand soos Kwagga Smith het selfs sy eie ondersteunersklub hier,” sê hy laggend.

“Tydens ons vorige groepwedstryd was daar ondersteuners met T-hemde en vlae van Kwagga. Sy gesig was op die T-hemde. Japan se gasvryheid is ongelooflik.”

Die Springbok-flank Kwagga Smith het sy eie ondersteunersklub in Japan. Foto: Getty Images

Een van Japan se geheime wapens sal Sondag in die gasheerspan se afrigtinglosie wees. Dit is Tony Brown. Hy is een van Japan se hulpafrigters en die Springbokke het al verskeie kere gedurende die Wêreldbeker met lof van hom gepraat.

“As jy na die agtergrond van hul afrigters kyk, sal jy sien dat iemand soos Tony (en Jamie Joseph) ’n Nieu-Seelander is. Ons almal ken Nieu-Seeland se filosofie oor die spel en die wyse waarop hulle die bal die werk wil laat doen. Ons kan ’n soortgelyke spelpatroon van Japan as van die All Blacks verwag,” sê Stick.

“Japan herinner my ook baie aan Argentinië. Sodra hulle daarin slaag om die bal langer in spel te hou, raak hulle baie gevaarlik. Ons verdedigingstelsel sal skerp teen hul vaardighede en vinnige spelers moet wees.”

Hy sê hulle het juis gehoor dat Joseph sy twee vleuels, Kotaro Matsushima en Kenki Fukuoka, as Ferrari’s beskou.

“Ons mag nie toelaat dat daardie Ferrari’s na vyfde of sesde rat verwissel nie.”

Stick het in Dinsdag se nuuskonferensie erken selfs hy bewonder die Japannese se aanvallende spel in die toernooi, wat gevaar vir Sondag se kwarteindstryd voorspel.

“Hulle is lankal nie meer een van die sogenaamde kleiner toetslande nie. Hulle beklee nou die sewende plek op die wêreldranglys.”

Die Bok-senter Lukhanyo Am was dit met Stick en Rassie Erasmus, hoofafrigter, eens dat Japan sedert die lande se losmaker, ’n paar weke voor die Wêreldbeker-toernooi se afskop, gegroei het.

“Ons weet dis ’n span wat die bal kan behou en die bal nog langer in spel wil hou,” sê Am.

“Ons het planne as teenvoeter daarvoor in plek. Ons sal by ons prosesse en plan hou wat vir ons uiteengesit is.”

In die losmaker was daar volgens Am nie soveel druk soos in ’n kwarteindstryd op albei spanne nie.

“Die span wat Sondag die druk die beste hanteer, sal bo eindig.”