Suid-Afrika moenie doemprofete se woorde waar maak deur die eenheid prys te gee wat die Springbokke se Wêreldbeker-sege tot gevolg gehad het nie, sê Nathi Mthethwa, minister van sport en kultuur.

Hy het die seëvierende Springbokspan saam met duisende ander ondersteuners op die O.R. Tambo-lughawe in Kempton Park ingewag.

“Die Springbokke se oorwinning het ’n invloed weg van die veld gehad. Dit het 57 miljoen Suid-Afrikaners verenig. Ons moet dié eenheid gebruik as ’n stewige grondslag om die probleme in die land op te los.

“Dit het almal van ons nader aan mekaar gebring. Ons moenie toelaat dat ons weer verdeel word nie.”

Volgens Mthethwa was die res van Afrika net so bly oor die Springbokke se oorwinning.

“Baie van my ampsgenote in Afrika het my gelukgewens en gesê die beker is ook hulle s’n. Dit het my diep geraak,” sê Mthethwa.

Siya Kolisi, kaptein, en Rassie Erasmus, afrigter, het te midde van die geblêr van vuvuzelas en die gejuig van ondersteuners buite die saal waar hulle verslaggewers toegespreek het, die sege aan Suid-Afrika opgedra.

Albei het gesê hoe baie die ondersteuners vir hulle beteken het.

rassie
Siya Kolisi met die Ellis Webb-trofee in sy hande. In die wit baadjie agter hom is die Bokbreier, Rassie Erasmus. Foto: Deaan Vivier

“Ons het rustyd (met die eindstryd) nie oor die wedstrydplan gepraat nie,” het Erasmus gesê. “Ons het gesê ons moet die wedstryd wen vir die mense in Suid-Afrika wat dit op TV dophou.”

Volgens Kolisi het “die mense hier buite ons baie gehelp. Hulle het ons ’n rede gegee om harder te veg.”

Ondersteuners het reeds van vroegmiddag op die lughawe aangekom en dit het by tye bra chaoties gelyk soos duisende ondersteuners die gewoonlik kliniese aankomssaal in ’n fees van klank en kleur verander het.

Groot en klein, oud en jonk en wit en swart was daar om die span welkom te heet en ’n mens het vroeg die idee gekry dat iemand soos dr. Mbuyeseni Ndlozi, EFF-woordvoerder, wat hom in die naweek uitgelaat het oor die gebrek aan verteenwoordiging in die Springbok-span, bra ontuis sou gevoel tussen die luidrugtige Springbok-ondersteuners.

Die oorwegende kleur was (uiteraard) groen met veelkleurige landsvlae wat oral te sien was. Die geblêr van vuvuzelas het deur die aankomssaal weergalm terwyl mense gedreunsing en gedans het. Ondersteuners met flambojante klere, wat gewoonlik by sokkerstadions te sien is, was volop. Talle makarapas was ook te sien; selfs een of twee van Kaizer Chiefs, maar darem ’n hele klompie selfgemaaktes wat met springbokkoppe gespog het.

Een man met sy selfgemaakte makarapa was nogal gewild onder selfoon-fotograwe. Hy het vir foto’s geposeer en soms self sy makarapa uitgeleen aan mense wat daarmee afgeneem wou word.

’n Vrou in ’n rolstoel met ’n liggroen ballon was ook onder dié wat vir die spelers gewag het.

Matt Proudfoot, die voorspelerafrigter, en Pieter-Steph du Toit, flank en Wêreldrugby se speler van die jaar, was die eerste lede van die Springbokgroep wat onder ’n oorverdowende gejuig deur die deure van die aankomssaal gestap het. ’n Polisie-orkes het dapper probeer om die volkslied te speel, maar dit was skaars hoorbaar bo die toeskouers se gejuig.

Mthethwa het gesê hy het heelwat mense verwag, maar was steeds verbaas om te sien hoeveel ondersteuners by die lughawe opgedaag het.

Hy was uitgevat in ’n pienk Springbok-trui met ’n groen Springbok-pet op die kop en het die mediakonferensie van die eerste klompie jolige spelers bygewoon wat in die land aangekom het.

Zozibini Tunzi, Mej. Suid-Afrika, was ook op die soms chaotiese mediakonferensie waar die ster-vleuel Makazole Mapimpi ’n rekord opgestel het deur sekerlik die eerste Bok nog te word wat die f-woord twee keer op só ’n byeenkoms gebruik het.

Maar ’n mens het Dinsdag die idee gekry dié Bokke sal alles vergewe word, self ’n tongfout of drie.

Tunzi het geduldig soos die meeste ondersteuners en verslaggewers vir langer as vyf uur gewag om Kolisi ’n drukkie te gee.

Erasmus het gesê die ontvangs het hom en die spelers verstom. Dit was ook goed om te sien dat mense van alle kleure en gelowe op die lughawe was om hul helde te verwelkom.

En enigiemand wat nog twyfel dat dié span werklik die mense van Suid-Afrika s’n is, wil ’n mens byvoeg, sal ná Dinsdag eenvoudig anders moet dink.