Die Springbokke se onoortuigende taktiese skopwerk in die Wêreldbeker-toernooi is simptomaties van Suid-Afrikaanse rugby wat dié belangrike kuns afskeep, sê die skopkenner Vlok Cilliers.

O weë, Faf skop weer. Die Bok-skrumskakel Faf de Klerk lê Sondag teen Japan die stewel in. Foto: Getty Images

Die wyse waarop die Bokke sover in Japan skop, krap ondersteuners om en dit is veral die skrumskakel Faf de Klerk wat baie kritiek verduur.

Cilliers, voormalige skopghoeroe van die Bulle en die Westelike Provinsie, sê hy is nie hieroor verras nie.

“Dit is iets wat agterweë bly in ons rugby en dit is hoekom ons een van die spanne is wat takties en uit die hand uit die swakste skop in wêreldrugby.

“Ons gee van skoolvlak af so baie aandag aan aanval, verdediging, skrums, lynstane en rolmale, maar ons skeep skopwerk af.

“Dit is hoekom lande soos Nieu-Seeland, Ierland en Engeland ons ver voor is.

Ons gee van skoolvlak af so baie aandag aan aanval, verdediging, skrums, lynstane en rolmale, maar ons skeep skopwerk af.

“Conor Murray en Ben Youngs (onderskeidelik Ierland en Engeland se skrumskakels) sal vyf keer skop, waarvan vier akkuraat is en die teenstanders onder druk plaas.

“Met Faf ongelukkig, is dit dalk twee uit vyf en in drie gevalle kry die ander span te maklik besit.”

Cilliers is ook bekommerd oor die Bokke se stelskopwerk.

Hy sê dit is kommerwekkend dat Handré Pollard, die Bok-losskakel, voor Sondag se kwarteindstryd teen Japan ’n sukseskoers van 66% gehad het.

Handré Pollard, die Springbok-losskakel, korrel pale toe teen Japan in die spanne se kragmeting in die kwarteindronde van die Wêreldbeker-toernooi. Foto: Getty Images

Pollard het in die groepfase agt uit 12 stelskoppe deur die pale geskop, terwyl iemand soos Richie Mo’unga van die All Blacks met 12 uit 13 in die kol was vir ’n indrukwekkende slaagsyfer van 92,3%.

Teen Japan het Pollard ook met twee doelskoppe (hoewel albei van die kantlyn) en ’n strafdoel misluk.

“Ek dink in die geheel was die skopwerk pale toe baie goed in die toernooi.

“Dit is ideaal dat Handré nader aan 80% beweeg, veral nou in die halfeindronde.

“Dan Biggar van Wallis (80% voor Sondag se ontmoeting met Frankryk) is baie akkuraat en daardie drie of ses punte kan die verskil tussen wen of verloor wees.”

Cilliers sê elke skopper kry ’n afdag, maar moet die vermoë hê om dit vinnig reg te stel en nie twyfel te laat intree nie.

“Daar is op die oog af niks fout met Handré se tegniek nie. Hy was nog altyd ’n goeie stelskopper.”

Cilliers, wat Saterdag ’n skopkliniek by die Hoërskool Eldoraigne in Centurion aangebied het, doen deesdae in veral Japan en Frankryk konsultasiewerk.

“Ek geniet dit baie om met beroepspelers, maar ook skoolseuns, te werk.

“Anders as toe ek voorheen by ’n unie was, gee dit my meer vryheid om oor die wêreld heen af te rig.”