Dit was ’n sameloop van faktore wat tot Suid-Afrika se derde Wêreldbeker-glorie gelei het, maar dit was veral in die skrums waar alles vir die Springbokke begin het.

Die oud-Bokke Danie Gerber, Wynand Claassen en Johan Heunis is dít eens nadat die span van Siya Kolisi Saterdag Engeland se Rose met 32-12 getrap het in die WB-eindstryd in Jokohama, Japan.

Heunis, wat in 14 toetse vir die Bokke gespeel het, sê die passie waarmee Suid-Afrika gespeel het, was ongelooflik om te aanskou.

“In eindstryde moet jy jou teenstander onder druk hou, min foute maak en toeslaan wanneer daar ’n kans is.

“Die Springbokke was uitstekend in al die afdelings en Engeland kon nooit die druk hanteer nie.

Ons het hulle doodgemaak in die skrums en ek het dit nie sien kom nie.
Wynand Claassen

“Dit het alles voor begin en Rassie (Erasmus) en almal wat by die groep betrokke was, verdien die grootste lof. “Dit is ongelooflik lekker om ’n Bokspan só te sien speel,” sê Heunis.

Claassen, wat op sy dag die Springbokke in sewe toetse aangevoer het, sê hy het getwyfel of die Engelse die pas sou kon volhou ná hulle sege oor die All Blacks in die halfeindronde.

“Engeland sou nie twee eindstryde in een week kon speel nie. Veral nie met die ongelooflike vertoning wat die Bokke gelewer het nie.

“Ek dink ons het hulle verras met ons spelpatroon. Rassie was nog altyd ’n innoverende afrigter en ons het die bal meer gedra en minder geskop.

“Ons het hulle doodgemaak in die skrums en ek het dit nie sien kom nie. Ek dink niemand, en veral nie Eddie Jones (Engeland se hoofafrigter), het dié totale oorheersing sien kom nie.”

YOKOHAMA, JAPAN - NOVEMBER 02: Rassie Erasmus, th
Rassie Erasmus met die Web Ellis-trofee ná die Springbokke se sege oor Engeland in die Wêreldbeker-eindstryd. Foto: Getty Images

Claassen sê Erasmus moet geloof word nadat hy Springbok-rugby verlede jaar in die waakeenheid gaan haal en in die bestek van twee seisoene ’n wêreldkampioen gemaak het.

“Dit wys net wat goeie afrigting beteken. Voor Rassie was dit (die afrigting) maar treurig. Hy het die regte spelers gekies en Rassie was regdeur oop en eerlik met daardie spelers. Rassie het byvoorbeeld die visie gehad om Cheslin Kolbe, wat deur baie mense as te klein vir toetsrugby beskou is, in Frankryk te gaan haal," sê Claassen.

“Ook het hy daardie spelers ten volle vertrou. Iemand soos Willie le Roux moes Saterdag na die partytjie toe gekom het en hy hét.”

Dít was nou vir jou Springbok-rugby. In ’n eindstryd. Vir wat beter kan jy vra?
Danie Gerber

Gerber beskryf Suid-Afrika se oorwinning as een van die beste veelsydige vertonings in baie jare.

“Dit was vyfster. Jis, die ouens het goed gespeel. Ja, ons het meer ondernemingsgees op die aanval gehad, maar dit is in die skrums waar die Engelse hul grootste verrassing gekry het. Geen span wat so verniel is in die skrums sou ’n realistiese kans gehad het om die wedstryd te wen nie. Die Bokke se voorspelers het hulle seergemaak en ek is baie trots op elke lid van die span," sê hy.

“Dít was nou vir jou Springbok-rugby. In ’n eindstryd. Waarvoor beter kan jy vra?”