Al was hy net vir 52 minute op die veld, beskou Cobus Reinach sy vertoning teen Kanada as die hoogtepunt van sy rugbyloopbaan.

“Dit was alreeds ’n hoogtepunt toe ek gehoor het ek is in die beginspan vir die toets. Om in enige Wêreldbeker-toets te begin is spesiaal,” het Reinach gesê. “ (Die toets teen Kanada) is sover die hoogtepunt van my loopbaan – en om drie drieë te behaal het dit net soveel lekkerder gemaak.”

Die 29-jarige Reinach was nie terwyl hy op die veld was bewus daarvan dat hy ’n Wêreldbeker-rekord met sy drie drieë in die Bokke se oorwinning van 66-7 oor Kanada in Kobe verbeter het nie.

Hy het sy drieë in die eerste 21 minute behaal.

Dis vinniger as die voormalige Wallaby Chris Latham se rekord vir drie drieë in 25 minute wat hy in 2003 se Wêreldbeker teen Namibië in Adelaide gedruk het.

“Dit was die eerste driekuns van my lewe. Ek is baie tevrede. Ek het aan niks anders met my drieë gedink as om my hartklop weer stadiger te kry en so vinnig moontlik terug in my posisie te kom nie.

Ek het in van ons oefeninge probeer om spelers aan die buitekant te klop. Dit het nie gewerk nie en daarom het ek vir die opsie van die lugskoppie met my eerste drie gegaan.
Cobus Reinach

“Ek het in van ons oefeninge probeer om spelers aan die buitekant te klop. Dit het nie gewerk nie en daarom het ek vir die opsie van die lugskoppie met my eerste drie gegaan.

“Ek het videogrepe van waar my pa van sy drieë gedruk het en die kommentators gesê het: ‘hier is spoed, hier is spoed’ – dít is baie spesiaal vir my.

“Ek het egter nie daaraan gedink toe ek my drieë behaal het nie. Ek wou net oor die doellyn kom.

“Ons speel ook as ’n span. (Die driekuns is) spesiaal, maar nie so belangrik nie.

Jaco Reinach, Cobus se pa, het 28 jaar lank die SA rekord in die 400 gehou. Hy is in 1997 in ’n motorongeluk dood.

“Ek wil net ’n bydrae vir die span lewer.”

Volgens Reinach het hy net met die doelwit op die veld gedraf om sy basiese take as skrumskakel akkuraat uit te voer.

Ondersteuners het egter agterna onder meer oor sy vaart op sosiale media gegons. Veral die vaart wat hy in sy eerste langafstanddrie getoon het.

“Ek gee baie aandag aan my spoedwerk, aangesien ek dit as een van my bates as ’n rugbyspeler beskou.

“Ek dink die vaart is maar in my gene aangesien my pa, Jaco, ’n atleet was. Hopelik sal my spoed nog vir ’n paar jaar hou.”