Sondag is Duane Vermeulen en Lappies Labuschagné vir sowat 80 minute lank vyande, maar slegs ’n paar weke later sal hulle saam ’n lostrio vir hul Japanse klubspan Kubota Spears vorm.

Vermeulen sien daarom uit na die Bokke se Wêreldbeker-kwarteindstryd teen Japan in Tokio waar dit van hom en Labuschagné verwag word om hul vriendskap vir ’n dag opsy te skuif.

“Lappies was ’n jong speler wat deurgekom het toe ek (in Suid-Afrika) gespeel het,” sê die 33-jarige Vermeulen.

“Hy het baie verbeter. Hy is ’n mens wat die spel goed ken en verstaan.

“Dis wonderlik om hom in ’n Japanse trui te sien. Ek is bly vir hom dat hy die geleentheid kry om in ’n Wêreldbeker te speel.

“Dit gaan pret wees om teen my spanmaat (Lappies) te speel. Ek en hy gaan oor ’n paar weke weer spanmaats wees en dan teen iemand soos Michael Leitch saamspan.

“Ek sien uit. Dit gaan ’n goeie uitdaging wees.”

Vermeulen (1,93 m, 108 kg en 51 toetse) het die 30-jarige Labuschagné (1,89 m, 107 kg en 6 toetse) se hoë werkverrigting uitgesonder.

Labuschagné, ’n boorling van Pretoria wat aan Grey Kollege gematrikuleer het, vir Shimlas, die Cheetahs en Blou Bulle gespeel het, se 56 duikslae is sover die tweede meeste in die toernooi.

Japan se Lappies Labuschagné in aksie teen Samoa. Foto: Getty Images

Samoa se TJ Ioane het 67 duikslae in die groepfase uitgevoer.

“Ek het al teen hul losvoorspelers in Super-rugby en in die Japanse Topliga gespeel. Dit gaan taai vir ons wees.

“Hulle is spelers van wêreldgehalte. Hulle verdien hulle respek weekliks. Hulle is ook goeie ouens van die veld af.”

Vermeulen beskou die kwarteindstryd nie as druk nie, maar as ’n geleentheid om teen die gasheerland te speel.

“Ek speel my klubrugby hier en geniet dit baie. Ek geniet die land, kos en kultuur.

“Wat is beter as om teen die gasheerland in die kwarteindstryd te speel. Dit is iets om te omhels. Ek sien uit daarna.”

Japan het volgens Vermeulen ’n sêding dat hulle die bal vir 50 minute in spel wil hou, wat buitengewoon hoog is aangesien spanne sukkel om by 35 minute uit te kom.

“Dis (50 minute) ’n groot ding om te sê, maar ook ’n goeie ding om te jaag. Hulle het sover by 39 minute en ’n paar sekondes uitgekom.

“Hulle is nog so 11 minute van hul doelwit. Jy weet nooit nie, dalk gebeur dit Sondag.”

Die lande se toets voor die Wêreldbeker het Vermeulen-hulle ’n goeie voorsmaak gegee wat om Sondag te verwag.

Ofskoon die Bokke nie maklik van hul eie wedstrydplan sal afwyk nie, gee Vermeulen toe hulle werk ook aan planne as ’n teenvoeter vir Japan se vinnige en hoëintensiteit-speelstyl.

“Alles gebeur hier by die Japanse klubs teen 100 km/h.

“Dis oefening en fiksheid, die ouens rus nooit nie. Hulle het ’n fantastiese werketiek op en van die veld.

“Ons weet wat Sondag kom, maar ons moet dit stop.

“Ons spelers wat klubrugby hier speel is dalk beter toegerus vir die toestande, maar jy moet steeds op die dag met die regte ingesteldheid opdaag.”