Duane Vermeulen leef sy wyle pa, André Vermeulen, se rugbydroom.

Die 33-jarige Springbok-agtsteman het aan die vooraand van Saterdag se Wêreldbeker-groepwedstryd teen Nieu-Seeland in Jokohama gesê dis dié droom wat hom as ’n rugbyspeler aanvuur.

“Ek doen dit als vir my pa,” sê Vermeulen.

“Hy is oorlede toe ek agt jaar jonk was. Ek dink dis wat hy graag self wou doen. Ek doen dit vir hom. Ek het my passie vir rugby by hom gekry.

“Hyself het rugby gespeel en het Boland iewers op provinsiale vlak verteenwoordig.

“ ’n Rugbybesering was die oorsprong van die kanker wat hy gehad het. Ek speel ook my rugby vir my eie gesin, wat ek dikwels min sien.”

Saterdag se kragmeting is die boorling van Nelspruit se 50ste toets vir die Bokke – ’n mylpaal waarvan hy nie tot Woensdag kennis gedra het toe rugbyskrywers hom daaroor gepols het nie.

In die 49 toetse wat hy gespeel het, het die Bokke 34 gewen, 14 verloor en een was gelykop.

Duane Vermeulen en Rassie Erasmus nadat die Springbokke vroeër vanjaar die Rugbykampioenskap gewen het. Vermeulen en Erasmus kom al ’n lang pad saam en het ’n hegte band. Foto: Gallo Images

“My eerste toets op 8 September 2012 op die Subiaco-ovaal in Perth teen die Wallabies staan vir my uit.

“Ons het hom nie gewen (19-26) nie, maar dit was ’n hoogtepunt om my toetsbuiging te maak en die Bok-trui die eerste keer te dra.

“Ek het eers in ’n laat stadium van my loopbaan, op 26-jarige ouderdom, begin toetsrugby speel en moes al ’n paar keer van beserings terugveg.

“Dié is my tweede Wêreldbeker. Soos in 2015, is vanjaar s’n ’n hoogtepunt.

“Iets anders wat vir my op toetsvlak uitstaan, was toe ons vanjaar die Rugbykampioenskap gewen het. Al was dit ’n enkelronde, is dit spesiaal om so iets teen van die sogenaamde grotes te vermag.”

Vermeulen se paaie het vroeg met Rassie Erasmus s’n gekruis, wat deur baie as sy sogenaamde rugbypa beskou word.

Dit was Erasmus wat hom by die Pumas raakgesien het en in 2007, toe hy nog die Cheetahs se Superrugby-afrigter was, oortuig het om ’n Vrystater te word.

In 2009 het Erasmus hom omgepraat om sy rugby in die Kaap te gaan speel. Hul paaie het van 2015 vir ’n wyle geskei toe Vermeulen vir die Franse klubspan Toulon gaan speel het, voordat hulle van verlede jaar op toetsvlak herenig is.

“Ek vertrou Rassie baie,” sê Vermeulen.

“Ons stap ’n lang pad saam. Hy het my ongelooflik baie oor die spel geleer.

“Op ’n wyse voel ek ook ek kon ek iets met my spel op die veld aan hom teruggee.

“Ek verstaan hoe hy dink en waarnatoe hy mik. Dis lekker om sy denkwyse te verstaan en saam met hom deur die dinge te gaan.”

Duane Vermeulen in sy toetsdebuut teen die Wallabies in 2012. Hy beskou dié wedstryd as een die grootste hoogtepunte in sy loopbaan. Foto: Getty Images

Die Bokke se sukses vanjaar kan volgens Vermeulen onder meer grootliks aan Erasmus se bydraes as Bok-afrigter toegeskryf word.

“Ek moet sê almal koop in by die plan wat die afrigtingspan vir ons gegee het.

“Ons span het ’n ongelooflike werksetiek. Niemand gee op nie. Dis die beste werksetiek wat ek nog in ’n spanomgewing ervaar het.

“Rassie en al ons ander afrigters maak ’n enorme bydrae tot die momentum wat ons in 2019 opgebou het.”

Vermeulen benader nie Saterdag se grote teen die All Blacks anders as enige ander toets nie. Al is dit sy 50ste, die Bokke se openingswedstryd in vanjaar se Wêreldbeker én teen die All Blacks.

“Ek benader nie enige toetse verskillend nie.

“ ’n Rugbywedstryd is ’n rugbywedstryd. Jy moet elke wedstryd presies dieselfde benader. As jy sekere toetse minder ernstig benader, kan gebeur wat in 2015 se Wêreldbeker teen Japan die geval was.”