Die All Blacks is dalk wel die rigtingwyser vir die Wêreldbeker tot dusver, maar Australië moet dalk na Japan kyk vir inspirasie in hul poging om terug te kom ná ’n nederlaag teen Wallis, sê hul voormalige afrigter, Bob Dwyer.

Die Wallabies, ’n tweemalige kampioen, kom Saterdag teen Uruguay te staan in Oita nadat hulle met 25-29 teen Wallis verloor het in Groep D.

Met geen span wat al ooit ’n wedstryd in die groepfase verloor het en aangegaan het om die toernooi te wen nie, tel alles teen Michael Cheika se span.

Dwyer het egter steeds hoop as die Aussies die basiese dinge reg kan doen, en hy sien geen beter rolmodel as Japan nie, wat Ierland met 19-12 geklop het.

“Ons kan Japan se vertoning teen die Iere as bloudruk gebruik,” sê Dwyer, wat die Wallabies tot hul eerste WB-titel in 1991 gelei het.

“As ek ’n video moes maak hoe om die spel te speel, sou ek Japan se vertoning gebruik het. Dit was uitstaande.”

Al het die All Blacks vir Kanada met 63-0 geklop, sê Dwyer dit is eerder Japan se puik verdediging en puik organisasie wat as voorbeeld gebruik kan word.

Die Brave Blossoms het hul aanval en verdediging goed georganiseer en het al die klein dingetjies baie goed uitgevoer, reken Dwyer.

“Hulle het reguit gehardloop op die aanval en hulle was nooit ver uitmekaar nie en hulle het nie diep gelê op die aanval nie. Om diep te lê, bied net ’n geleentheid vir die ander span se verdediging,” sê Dwyer.

Dinge is nooit net swart en wit nie.
Bob Dwyer

Hy sê hy weet ook nie wat deur die Wallaby-keurders se koppe gaan nie.

“Vanaf ’n afstand is dit moeilik om te weet watter rigting hulle besig is om in te slaan. Die spankeuses teen Wallis was duidelik verkeerd.

“As dit egter kan help om sekerheid te kry oor wat om in die toekoms te doen, is dit reg. Dinge is nooit net swart en wit nie.”

Hy glo egter die stryd teen Uruguay kan alles behalwe as net ’n oefenlopie gesien word.

Uruguay het wel met 7-33 teen Georgië verloor, maar die Suid-Amerikaners het hul gehalte getoon deur Fidji met 30-27 te klop.

“Daar is heelwat wat Uruguay dieselfde doen as die Argentyne. Hulle is taai en trots en gee nie sommer op nie,” vertel Dwyer.

“Ons kan nie wil eksperimenteer teen hulle nie, want dan gaan ons huil. Ons moet hierdie wedstryd benader soos enige ander teen van die toplande,” sê hy. – Reuters